Local newsNews

Maimane kritiseer Zuma se faux pas

President loop onder kritiek deur oor 'agterlike Afrikane'.

Die DA se nasionale woordvoerder en plaaslike inwoner Mmusi Maimane het president Jacob Zuma skerp bygekom in ‘n ope brief na Zuma se uitlatings tydens ‘n toespraak op 21 Oktober waarin die president vir die gehate e-tolstelsel in die bresse getree het.

In die toespraak waarin die president ‘n paar blapse begaan het deur blykbaar “nie te weet” dat taxi’s van e-tol vrygestel is nie en waarin hy ook neerhalend na Malawi verwys het, het hy hom Maimane se gramskap op die hals gehaal deur die omstrede stelling te maak dat “ons nie soos Afrikane in Afrika moet dink nie”.

In die brief getiteld Liewe Meneer President, Afrikane is nie agterlik nie het Maimane die president gevra om sy stelling terug te trek.

“Die president het gesê dat ons e-tol moet verwelkom en betaal want nuwe snelweë is in Johannesburg gebou. Wat die president nie besef nie is dat Afrika teen ‘n baie vinniger pas ontwikkel as wat hy te kenne gee,” is Maimane se kritiek.

“Baie regerings in Afrika-lande het investeringsvriendelike beleide daargestel wat werk skep. Hulle belas nie hulle burgers dubbel deur duur e-tolstelsels nie.

“Die president moet liewer ‘n blaadjie uit die boeke van ander Afrika-ekonomieë neem wat vinniger as ons groei,” het Maimane voortborduur.

“Die president het nie daaraan gedink toe hy die e-tolwetsontwerp onderteken het nie.

“Meneer die president, ons is nie agterlik wanneer ons sê dat ons nie e-tol kan bekostig nie. U bewering dat die werkersklas met motors die e-tol sal kan bekostig, is vals. Wie kan dit bekostig om R400 ‘n maand ekstra te betaal om tussen Soweto en Midrand te pendel?” wou Maimane in sy striemende aanval weet.

“In plaas daarvan om Suid-Afrikaners te beledig deur te sê dat ons agterlik is omdat ons e-tol opponeer, moet ons liewer ontslae raak van hierdie agterlike en duur tolstelsel.

“Die president behoort om verskoning te vra en sy stelling terugtrek,” het Maimane afgesluit.

Die Presidensie het die situasie probeer beredder deur die holruggeryde verskoning te gebruik dat die president se stellings “uit verband geruk is”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button