School sportSport

Monnas oorrompel Florries vir Goue Leeus-titel

Twee drieë, ‘n doelskop en ‘n strafskop was al wat Florries se eersterugbyspan in die Goue Leeus-eindstryd vir Makroskole teen Monnas se Wit Bulle op Saterdag 20 Julie kon vermag. Monnas het dié dag sy 19de Goue Leeus-trofee (sedert 1992) in ‘n stampvol Ras van Rooyen-stadion in Krugersdorp omhoog gehou toe hy vir Florida met …

Twee drieë, ‘n doelskop en ‘n strafskop was al wat Florries se eersterugbyspan in die Goue Leeus-eindstryd vir Makroskole teen Monnas se Wit Bulle op Saterdag 20 Julie kon vermag.

Monnas het dié dag sy 19de Goue Leeus-trofee (sedert 1992) in ‘n stampvol Ras van Rooyen-stadion in Krugersdorp omhoog gehou toe hy vir Florida met 43-15 getroef het.

Die Wit Bulle het sommer vroeg-vroeg die telbord aan die rol gekry danksy ‘n pragdrie deur die flank Gavin Delport. Daarna het die haker CJ Conradie en die buitesenter Gerdus van der Walt gaan druk om 17-0 voor te loop. Florries se agsteman, Hilroy Baadjies het sy span se eerste punte aangeteken toe hy ‘n skop afgestorm en gaan afrond het. Monnas se binnesenter Stefan le Roux het kort voor halftyd, sonder dat ‘n vinger op hom gelê is, reg onder die pale gaan druk vir sy span se vierde drie wat die telling na 24-7 laat aanskuif het.

Dit was verbasend dat Florries die eerste sê in die tweede helfte gehad het dansky ‘n suksesvolle strafskop deur Erwin Harris, maar die terugvegpoging is bederf nadat Monnas se skrumskakel en kaptein, Johan Esterhuizen vanaf ‘n losgemaal deurgebars en gaan afrond het. Dit is opgevolg deur een drie elk deur die stut CJ Greef en plaasvervangervleuel Christof Venter.

Hans Coetzee wat aan die begin van die 2013-seisoen sy terugkeer as Monnas se eerstespanafrigter gemaak het nadat hy in 2007 laas dié pos gevul het, het na die kragmeting aan die Record gesê dat vasberadenheid die groot verskil tussen sy span en Florries s’n was.

“Ons wou baie graag ‘n goeie vertoning op ons tuisveld lewer. Ons het ons kanse benut en ‘n paar verstellings gemaak om Monument-rugby meer aanskoulik te maak. Dit kon ons Saterdag regkry.”

Hans het ook sy span se diepte beklemtoon aangesien hulle sonder vier Cravenweek-spelers – al twee die flanke, die agsteman en stut – moes klaarkom.

“Ons is baie trots op die ouens; die spelers wat hierdie manne se skoene moes volstaan het dit beslis gedoen.”

Florries se direkteur van rugby, Skip Viljoen het gesê, “Ons is beslis deur Monnas oorrompel. Hulle was groter, sterker en vinniger”. Florries het ook die afwesigheid van die stut Clinton Theron (kniebesering), en vleuel Ralton October (ook knie), deeglik gevoel.

Florries pak nou Saterdag 27 Julie vir Garsfontein weg van die huis af met die hoop om vir die kwarteindrondte van die Beeldtrofee te kwalifiseer terwyl Monnas reeds sy plek bespreek het. Hulle pak vir Nelspruit wat die afgelope naweek met HTS Middelburg afgereken het, ook weg van die huis af.

Puntemakers vir Florries:

• Drieë: Hilroy Baadjies (1), Steven du Plessis (1)

• Doelskoppe: Erwin Harris (1)

• Strafskoppe: Erwin Harries (1)

Ander uitslae op die dag:

• Florries o.14 0-49 Monnas

• Florries o.15 7-65 Monnas

• Florries o.16 15-43 Monnas

• Florries 2de span 5-22 Monnas

• Florries 15-43 Monnas

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button