EntertainmentLifestyle

Ware verhaal op pad teaters toe

JOHANNESBURG – Nuwe rolprent vertel storie wat nog nie gehoor is nie.

 

Resensie: Mari Rheeder

Genre: Drama

Regisseur: Daryna Joshua

Vervaardiger: David Max Brown en Moshidi Motshegwa

Skrywer: John W Fredericks

Hoofrolle: Dann-Jacques Mouton, Gantane Kusch, Sandi Schultz

Punt: 8/10

Tyd: Twee ure 30 minute

Vrystelling: 2 September

Die ligte verdoof en ons is nie meer in 2016 nie, maar in 1962 iewers op die Kaapse vlaktes. Die kleredrag, die stel en die taalgebruik oortuig die kyker dat dit die 60’s is. Ons maak kennis met vier jong maatjies wat besluit dat al manier hoe hulle die bendes sal oorleef, is om self ‘n bende te stig.

Die rolprent, Noem my Skollie, verskil van enige ander Afrikaanse rolprent deurdat dit die verhaal van bendes op ‘n ware en rou manier vertel. Dit is ook een van die eerste ware verhale wat in die Afrikaanse filmbedryf vertel word.

Opsomming: ‘n Groep vriende vorm ‘n bende en noem hulself ‘The Young Ones’. AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) land in Pollsmoor Gevangenis. Hier ontdek AB sy talente as storieskrywer en storieverteller. Hy raak gou gewild deur die ander gevangenes te vermaak met sy stories. In die tronk hoor AB ook dat sy ma (Sandi Schultz) deur bendelede vermoor is. Weereens gebruik hy sy stories om hom deur hierdie tyd te dra.

Die rolprent eindig met drie karakters wat gehang word.

Die goeie: Afhangend van wie die kyker is, kan dit ‘n ‘goeie’ of ‘n ‘slegte’ wees. Die rolprent ontbloot alle aspekte van die lewe as bendelede in die Kaap gedurende die 60’s en 70’s. Die kostuums, musiek, taalgebruik en stel is baie oortuigend. Die rolprent is emosiebelaai en dramaties – jy voel dankbaar vir jou lewe en jou kinderjare. Jy voel ook dankbaar vir die kennis wat jy opdoen oor die lewe van bendelede.

Die slegte: Die emosie en drama kan by tye te veel raak, so-ook die swaar temas van seksuele aanranding, dwelms, moord en kru taalgebruik, maar moet binne die konteks waarin dit gebruik word, verstaan word.

Oordeel: Dit kan nie verseker word dat enigeen van die rolprent gaan hou nie, omdat dit so ‘n spesifieke teikenmark het. Dit is egter ‘n storie wat vertel moet word en wat alle Suid-Afrikaners van alle rasse behoort te sien.

Verwante artikels:

Modder en Bloed teken punte aan vir Afrikaanse filmbedryf https://randburgsun.co.za/285552/modder-en-bloed-teken-punte-aan-vir-afrikaanse-filmbedryf/

Related Articles

Back to top button