Local newsNewsSchools

Blokkies liefde vir winterwarmte

Helderkruin — Liefdadigheidsprojekte bring dikwels die heel beste in gemeenskappe na vore. Dit is weer bewys toe Laerskool Helderkruin onlangs besluit het om Solidariteit Helpende Hand se Brei-'n-Blok-projek te ondersteun. Volgens Mariëtte van de Werken, Helpende Hand se Streeksorganiseerder aan die Wes-Rand en in die Vaaldriehoek, samel hulle gebreide blokkies in met die doel om

Liefdadigheidsprojekte bring dikwels die heel beste in gemeenskappe na vore. Dit is weer bewys toe Laerskool Helderkruin onlangs besluit het om Solidariteit Helpende Hand se Brei-‘n-Blok-projek te ondersteun.

Peet Badenhortst en Mariëtte van de Werken saam met die wenners van die kompetisie. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens Mariëtte van de Werken, Helpende Hand se Streeksorganiseerder aan die Wes-Rand en in die Vaaldriehoek, samel hulle gebreide blokkies in met die doel om blokkieskomberse te maak, en dit te skenk aan minderbevoorregte instansies soos tehuise, kinderhuise en kleuterskole wat dit nodig het.

Peet Badenhorst en Mariëtte van de Werken. Foto: Alanicka Lotriet.

Laerskool Helderkruin het vroeër vanjaar hul eie blokkiesprojek geloods, wat hulle toe met dié van Helpende Hand laat saamsmelt het. Die reaksie was oorweldigend.

Die skool was dus opgewonde om op Vrydag, 13 Mei blokkies by die honderde aan Mariëtte te oorhandig. Vir dié wat die oorhandiging bygewoon het, was dit moeilik om nie ‘n traan te pink nie.

“Dit is moeilik om die trane te sluk as jy die liefde kan voel wat hierin gegaan het. Die projek gee my weer hoop. Dis so lekker om te weet dat daar soveel mense is wat nog so baie vir ander omgee. Ek kan nie eers begin om my waardering and dankbaarheid te beskryf nie,” het Mariëtte vertel.

Daar was selfs ‘n kompetisie onder die leerders om te kyk wie die meeste blokkies liefde kon skenk. Die kompetisie was taai, en die Graad 3-leerder, Ava-Mari Roos wat ‘n uitmuntende totaal van 409 blokkies ingesamel het, was die wenner.

Ava-Mari Roos het die meeste blokkies ingesamel. Foto: Alanicka Lotriet.

In die tweede plek is dit Graad 5-leerder, Cjay Botha wat 362 blokkies ingesamel het, terwyl Deane Crous in Graad 3 350 kleurvolle blokkies geskenk het.

“Dis vir ons as skool ‘n groot voorreg om ‘n verskil in die gemeenskap te kan maak. Ons is bereid om enige bydrae te maak as dit beteken ons kan dié in nood help – ons doen dit met die grootste liefde. Baie dankie vir elke mooi Kruiner-hart en -hand wat bygedra het tot die sukses van hierdie projek,” het skoolhoof Peet Badenhorst gesê.

Volgens Mariëtte sal die voltooide komberse tussen 11 Solidariteit-takke oor die Wes-Rand en Vaaldriehoek verdeel word, waarna dit na verskeie instansies in nood versprei sal word.

Indien jy daarin belangstel om deel te wees van die projek, kan jy eenvoudig jou breinaald of hekelpen optel, en jou blokkies volgens die volgende vereistes maak:
• Grootte van kombers – 10 x 8 blokke (80 blokke in totaal)
• Grootte van blokke – 15 x 15cm
• Wol – Dubbeldraad (Double Knitting Yarn)
• Breinaalde – 4mm
• Hekelpen – 4mm

Gemeenskapslede is welkom om blokkies/ komberse af te lewer by Ons Plek Horison, Hervormde Kerk, Georginastaat 34B, Horison. Indien skenkers in die Roodepoort-omgewing woon, kan skenkings ook gaan haal word. Neem in ag dat die keerdatum vir dié projek Vrydag, 3 Junie sal wees.

Indien jy meer wil weet, skakel gerus vir Mariëtte by 071 548 8013 of stuur ‘n epos na mariette@helpendehand.co.za. Bionita Mienie kan ook gekontak word by 067 035 1686 of bionita@helpendehand.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button