Local sportSport

Springbok-rolbalspeler deel haar passie

Haar grootste byeenkoms tot dusver is die Multi Nations 2019 wat aan die Gold Coast in Australië plaasgevind het.

Wat begin het as ‘n jolige geleentheid saam met geliefdes, het vir plaaslike rolbalspeler Bridget Calitz ‘n passie geword.

Bridget het ongeveer 11 jaar gelede met rolbal kennis gemaak toe sy vir die pret aan ‘n ‘night bowls’-geleentheid saam met haar ouers deelgeneem het.

“Toe ek weer kyk, was ek terug op die baan. Ek het begin hou van die gevoel wat ek kry wanneer ek my bal na die ‘jack’ toe rol. Ek hou ook van die sport omdat jy met soveel mense en plekke kennismaak, en ook omdat dit iets is waaraan jy saam met jou familie kan deelneem,” het sy vertel.

Bridget, wat ‘n lid is van die Leases Rolbalklub, se passie vir die sport het haar in 2019, 2020 en 2022 ‘n plek in die nasionale rolbalspan verseker.

“My eerste kompetisie was in Nairobi, Kenia in 2019 vir die African States. Ons het teen Zimbabwe, Kenia en Botswana gespeel, waar ek en my spanmaats algeheel goud gewen het. Ons het ook goud vir ‘Trips’ en silwer vir die ‘Viere’ gewen,” het sy vertel.

Sy het boonop in dieselfde jaar die SA Junior Masters gewen, en vanjaar brons by dié byeenkoms verower. Volgens Bridget het sy ook al twee keer die plaaslike Sables Masters gewen.

Alhoewel sy aan talle kompetisies oor die jare deelgeneem het, was haar grootste byeenkoms tot dusver die Multi Nations 2019 wat aan die Gold Coast in Australië plaasgevind het. Daar het sy teen lande soos Australië, Nieu-Seeland en Ierland gespeel.

Bridget Calitz leef haar passie uit. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ek is ook baie opgewonde omdat ek vroeër vanjaar vir die Statebondspele-oefengroep gekies is. Die finale span sal in Mei gekies word,” het sy in haar skik vertel.

Sou Bridget dié span haal, sal sy na verwagting in Julie of Augustus aan dié gesogte byeenkoms in Engeland deelneem.

“Ek hoop om Suid-Afrika by die Statebondspele te verteenwoordig en een van min te wees – iemand waarna mense kan opkyk. Rolbal is een van my grootste passies, en ek sien elke keer uit om te gaan speel. Almal in die rolbalgemeenskap is vir my soos ‘n tweede familie,” het sy ten slotte vertel.

Related Articles

Back to top button