NewsSchools

Kruiners verras met spesiale besoek

Kruiner-maats se oë het groot gerek toe een van die leerders die brandslang kon vashou terwyl water teen baie hoë druk uitgespuit het.

Met ‘n sportveld vol interessante voertuie, bussies en ligte kon Laerskool Helderkruin se jongstes nie anders nie as om met bewondering te kyk en te luister hoe alledaagse helde vir hulle meer vertel oor hul onderskeie beroepe.

Op Vrydag, 27 Augustus is die Graad RR tot Graad 3 Kruiners verras toe personeel van verskeie sekuriteits-, polisie- en nooddienste vir hulle kom kuier het, waaronder Fire Operations SA; Rapid Response Service; die Stasiebevelvoerder van die Roodepoort Polisie; die gemeenskapspolisiëring; buurtwag; JMPD-hoof; die hoof van die Gauteng Verkeersafdeling; Fidelity ADT; Dowry; EC Sekuriteit; Intellidrive; Fostertech Security Services; die Polisie se Honde-eenheid; en Netcare 911.

Ray Botes, Solomon Tebe, Musa Mathebula en James Manala is gereed vir enige vrae. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens Isobel Mitchley van Laerskool Helderkruin was dit die ouers se inisiatief om die opvoedkundige geleentheid vir die leerders te bied.

“Die doel van hierdie groot byeenkoms is om die leerders bewus te maak van die wonderlike diens wat die polisie sowel as veiligeheidsbeamptes aan die publiek lewer. Ten spyte van Covid-19 sal hierdie ‘instappie’ ‘n jaarlikse aktiwiteit word,” het sy vertel.

Mia Steenkamp voel hoe dit is om ‘n polisiebeampte te wees. Foto: Alanicka Lotriet.

Kruiner-maats se oë het groot gerek toe een van die leerders die brandslang kon vashou terwyl water teen baie hoë druk uitgespuit het. Daarna kon die leerders die vierpotige held, Duke van die K9 Soek- en reddingseenheid ontmoet.

Die maats was ook welkom om vir enigeen in uniform oor hul beroep uit te vra. Danksy die besoek sal talle leerders met sekerheid kan sê wat hulle eendag wil word.

Luitenant Warren Bronner wys vir Nicholas Swart hoe om ‘n brandweerman te wees. Foto: Alanicka Lotriet.

“Vriende van die gemeenskap wat ons beskerm verdien beslis ‘n groot dankie en erkenning. Ons sien uit om hulle weer by Laerskool Helderkruin te verwelkom,” het Kruiner-hoof Peet Badenhorst ten slotte gesê.

Related Articles

Back to top button