Local newsNews

Serebraal gestremde seuntjie gee nie sommer op nie

Louise Snyman praat oor klein Brodie se toestand.

 

Alhoewel dit deesdae heelwat beter gaan met die tweejarige vegtertjie, Brodie Snyman, is daar nog heelwat struikelblokke wat oorkom moet word.

Brodie het asemnood tydens geboorte gehad en is gevolglik met ‘n serebrale gestremdheid gediagnoseer. As gevolg daarvan ontwikkel Brodie heelwat stadiger en sal nie die normale mylpale vir sy ouderdom kan bereik nie.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2017/05/12/hartseer-tyd-vir-snyman-gesin/

Volgens sy ma, Louise Snyman, gaan dit nou baie beter met Brodie as verlede jaar en sy terapeute is ook baie tevrede omdat hy positief op al die terapie reageer. Sy ouers oefen ook elke dag sy ogies om sy sig te verbeter.

Brodie is in 2017 met sekondêre asma gediagnoseer, wat beteken het dat hy pal op suurstof moes wees. Louise het egter vertel dat hy nou al tot en met ses uur lank sonder die suurstofmasjien kan funksioneer.

Louise is ook baie dankbaar dat Brodie, wat reeds op ses maande oud ‘n gereelde hospitaalbesoeker was, nog nie hierdie jaar in die hospitaal was nie. “Hy was wel al ‘n paar keer siekerig, veral met hierdie koue, maar ons kon hom gesond kry sonder dat hy opgeneem is.”

Lees meer:

https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2018/07/25/fundraiser-for-brodie-snyman-web/

Brodie se ouers probeer ook oefeninge met hom doen om te help vir sy skoliose, heupe en spiere, maar met die koue gee sy spiere en rug hom probleme. “Sy spiertjies gaan in spasma en sy lyfie is dan baie styf,” het Louise gesê.

Alhoewel hulle ‘n mediese fonds het, word al sy medikasie en behandelings nie gedek nie. Daar is ‘n groot bedrag nodig vir die behandeling van sy rug en heupe, asook die medikasie. “Ons het beslis die toerusting nodig sodat ons kan verhoed dat sy heupe en rug erger word, aangesien en daar ‘n groot moontlikheid is dat sy heupe ontwrig kan word,” het Louise gesê.

Sy het vertel dat hulle tog positiewe tekens opmerk, en dat Brodie baie goed groei en ook meer bewus is van wat om hom aangaan, “Met al die harde werk saam met ons, sy dokters en terapeute, glo ons dat dit net nog beter sal gaan”.

Vir meer inligting oor Brodie, of om te help, kontak Shaun Snyman by 061 387 2301 of besoek die Facebook-blad by https://www.facebook.com/brodiesnymanjourney.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button