Editor's choiceLocal newsNews

Florida-meisie ontvang diagnose wat haar lewe verander

‘Ek is verbaas oor al die hulp en ondersteuning wat ons alreeds ontvang het’

 

“Ek het in een week amper 10 jaar ouer geword, en dit voel steeds of iemand ‘n ton bakstene op my kop afgegooi het. Ons almal se lewens staan nou stil en ons kan net glo en vertrou.”

So het Fransie Scholz gesê. Sy is die ma van die 17-jarige Clarece Scholtz, wat onlangs met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is.

“Clarece is met aandagafleibaarheidsindroom en hiperaktiwiteit gediagnoseer, en word van jongs af deur ‘n neuroloog behandel. Toe sy onlangs van hoofpyne begin kla het, het ek gedink dat dit dalk migraine kan wees, en het haar na hom toe geneem. Na ‘n MRI-skandering en ‘n EEG het die dokter gesê dat hy niks fout kon kry nie, en het haar met medikasie behandel,” het Fransie vertel.

Clarece Scholtz in die hospitaal. Foto: Verskaf 

Sy het bygevoeg dat die medikasie ‘n bietjie verligting gebring het, maar kort voor lank het Clarece weer begin kla. “Ek het haar eers na ‘n chiropraktisyn toe geneem omdat ek oortuig was dat dit spanning was, maar hy kon nie veel doen om die hoofpyne te verlig nie. Net na hierdie besoek het ons almal se lewens onherroeplik verander,” het Fransie verduidelik.

Sy het vertel dat terwyl hulle ‘n doodgewone Sondag by die huis spandeer het, het Clarece se neus onverwags begin bloei. “Ons het gesukkel om die bloed gestop te kry en die nag nie veel geslaap nie. Toe haar neus die Maandagoggend steeds gebloei het, het ons na die kliniek by die apteek gegaan. Die suster het ons een kyk gegee, en ons aangeraai om na die hospitaal se ongevalle-afdeling toe te gaan,” het sy gesê.

Met hul aankoms by Life Flora Kliniek is Clarece dadelik op ‘n drup gesit en bloedtoetse is gedoen. “Nadat die dokter die uitslae ontvang het, het hy my na Clarece se kamer geneem.

Hy het vir ons gesê dat daar geen mooi manier is om die nuus oor te dra nie, en dat sy akute limfoblastiese leukemie het wat ons dadelik moet laat behandel,” het Fransie vertel.

Intussen is Clarece na die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal oorgeplaas want die gesin het nie ‘n mediese fonds nie. “Ons het nog net goeie behandeling hier ontvang, en die personeel kyk baie mooi na Clarece. Die spesialis het die uitslae van die verdere bloedtoetse gekry, en Clarece sal nou elke dag vir minstens twee weke chemoterapie ontvang. ‘n Beenmurgoorplanting lê ook vir haar voor,” het Fransie gesê.”

Clarece se spesiale vriend, Martin, het ‘n Backabuddy-bladsy geskep en reeds R56 954,70 vir haar behandeling ingesamel. Besoek gerus die blad by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/clarece-acute-leukemia.

““Die Graad 12-meisies van Hoërskool Florida, waar Clarece ‘n leerder is, verkoop ook kolwyntjies om met fondsinsameling te help,” het Fransie gesê.

Sy het met die volgende woorde afgesluit, “Ons is so oorweldig deur almal se ondersteuning, en ek het weereens besef dat Suid-Afrika nie so ‘n slegte plek is om in te bly soos ons almal gedink het nie.”

Vir meer inligting oor hoe Clarece gehelp kan word, stuur ‘n epos na die Record-joernalis by adeleb@caxton.co.za. Alle navrae sal aan Fransie gestuur word.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Related Articles

Back to top button