Editor's choiceLocal newsNews

“My boek, en my storie, is vir almal bedoel”

Sy boodskap is eenvoudig, "Moenie tyd mors nie."

 

Die 18-jarige Ruan Kok se lewe het in ‘n oogwink handomkeer verander, en vir hom is dit die perfekte geleentheid om ‘n inspirasie vir ander te kan wees.

Ruan was ‘n leerder by Hoërskool Florida, en hy was ‘n normale, gesonde tienerseun. “In September verlede jaar het ek die oggend tydens voogperiode erge dubbelvisie ervaar. Toe ek in die volgende klas by my tafel gesit het, het my kop vreeslik swaar gevoel. Ek het my kop op my hand laat rus, en die volgende oomblik het ek van my stoel afgeval en op die vloer beland,” het hy vertel.

Sy ma, Yolanda Kok, het bygevoeg, “Ons het hom dadelik dokter toe geneem. Ons was eers by ‘n optometris omdat hy van dubbelvisie gekla het, maar ons is aangeraai om ‘n MRI-skandering te laat doen.

Daar is toe ‘n gewas aan sy breinstam ontdek.”

Ruan het op 21 September sy eerste operasie ondergaan. Na na ‘n prosedure van vier uur waartydens probeer is om die vog te dreineer sodat die gewas verwyder kon word, het die dokters gesê hulle kon nie by die gewas uitkom nie. Hy was vir 13 dae in die intensiewesorg-eenheid, en Yolanda onthou dat dit vir hom baie traumaties was. “Daarna kon ons hom huis toe neem, maar twee weke later het hy die tweede operasie ondergaan,” het sy gesê.

Lees ook: Carpe diem – Gryp die dag

Tydens die tweede operasie van agt uur lank kon die gewas weer nie verwyder word nie, maar hulle kon ‘n klein stukkie afskraap. “Niemand kan vir ons sê presies wat dit is nie, behalwe dat dit nie kanker is nie. Ruan het op 20 November sy jaarlikse ondersoek gehad, en die prognose is dat die dokters nou niks meer vir hom kan doen nie,” het ‘n emosionele Yolanda vertel.

Die gewas kan nie met chemoterapie of bestraling behandel word nie, en tas sy gehoor, spraak, sig en balans aan. Ruan volg ook ‘n spesiale dieet. “Ons besef dat sy lewe totaal in die Here se hande is, en ons kan net alles in ons vermoë doen om sy lewe vir hom so gemaklik as moontlik te maak. Ons neem dit nie van dag tot dag nie, ons koester elke minuut wat ons saam is,” het sy gesê.

Ruan het vertel dat een van die dinge wat hy die meeste mis, is om na sy pa se preke in die kerk te kan luister. “My pa het al sy vorige preke vir my op my tablet gelaai. Hy maak ook seker dat ek elke Sondag se preek het, sodat ek sy preek kan lees, terwyl ons in die kerk is. Wanneer ek hierdie preke lees, ervaar ek weer hoe dit voel om in die kerk te wees,” het hy vertel.

Yolanda het bygevoeg dat sy geloof onwrikbaar is, en dat hy ‘n ongelooflike passie vir siele het. “Ruan is baie nederig, en hy is altyd oor ander besorg. Hy sal nie dat iemand by hom verbygaan, sonder om te probeer om die persoon se siel aan te raak nie, hetsy met ‘n gebed, of deur ‘n bemoedigende woord,” het sy vertel.

Ten spyte van sy toestand het Ruan nog nie een dag gekla of gevra hoekom nie, en hy glo dat die Here ‘n wonderwerk in sy lewe sal doen.

“So ongelukkig soos wat my storie lyk, belowe ek dat hierdie eintlik een van die beste oomblikke in my lewe is – nie omdat ek siek is nie, maar omdat ek die geleentheid gegun is om nader aan God en my familie te beweeg. Ek is so dankbaar vir al die sorg, liefde en omgee wat ek van my pa, ma, broer en vriende ontvang,” het Ruan gesê.

Ruan het intussen Graad 12 deur tuisonderrig voltooi, en hy het ook ‘n boek oor sy lewensverhaal geskryf. “Die doel van my boek, Praising in Darkness Until the Light Comes is om ander mense te inspireer om hul lewens te verander en terug te draai na God toe. My storie is vir almal bedoel, nie net vir ‘n sekere ras, geslag of taal nie. Mense moet besef dat hulle nie moet tyd mors nie, die lewe is te kort,” het hy gesê.

Hy het die boek, wat uit sy lewensverhaal, ‘n paar gedigte, gesegdes asook kortverhale bestaan, sonder enige professionele opleiding geskryf. ‘n Familievriend het hulle gehelp om die boek gedruk en gepubliseer te kry. “Ons het sy boekbekendstelling op 18 November gehad, en dit was ‘n ongelooflike ervaring,” het Yolanda met ‘n glimlag vertel.

Vir Ruan is dit belangrik dat mense wat sy boek lees, moet besef dat dit nie ‘n professionele skrywer se werk is, of bedoel is om ‘n teologiewerk te wees nie. Hy het dit so verduidelik, “Mense vra maklik, ‘Hoekom ek’, of ‘Hoekom het dit met my gebeur?’ Die boodskap wat ek wil oordra is eenvoudig – mense moet besef dat, in plaas daarvan om daardie vrae te vra, hulle eerder na God toe moet gaan met hulle probleme, en hy sal dit vir hulle makliker maak. Dit is ook hoe ek by die titel van my boek uitgekom het.”

Hy en sy gesin gaan ook gereeld na skole en jeugbyeenkomste toe, waar Ruan die kans kry om sy storie te vertel en mense aan te raak. “Dit is hier waar ek ook my grootste boodskap oordra, en mense herinner dat hulle nie moet tyd mors nie – elke dag is ‘n geskenk, en hulle moet voluit leef,” het hy gesê.

Praising in Darkness Until the Light Comes kan by Yolanda bestel word teen R100. Sy het gesê dat die geld direk in Ruan se rekening inbetaal word, en vir sy persoonlike behoeftes aangewend word. Skakel haar by 073 415 0279 om die boek te bestel. Ruan het ook ‘n Facebook-blad, Praising in Darkness Until The Light Comes.

Yolanda het afgesluit met die volgende woorde, “Ruan het baie deursettingsvermoë, en hy probeer om elke dag iets nuuts te doen om sy talente te vermeerder. Sy twee grootste wense is om volgende jaar ‘n skryfkursus te voltooi, en weer see toe te kan gaan, want hy sê dat hy so graag weer die sand onder sy voete wil voel. Ek glo die Here spaar Ruan vir ons, want ek is nog nie gereed om hom te laat gaan nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button