LettersOpinion

Alles is nie nét sleg nie

Anoniem van Roodepoort skryf:

Die afgelope maand is ons almal geraak deur baie negatiewe dinge wat in ons land gebeur – van die middernagtelike kabinetskuiwe deur President Jacob Zuma, die afgradering na rommelstatus en alles wat daarmee gepaard gaan. Die ekonomie gaan agteruit, die petrolprys styg, kos se pryse word net hoër en ons wonder waarheen ons op pad is.

Maar, ten spyte van al die dinge, was daar tog ‘n paar ligstraaltjies. Vir die eerste keer in bykans 24 jaar het elkeen wat in Suid-Afrika woon ‘n besluit geneem om saam te staan, op te staan en te veg vir iets wat belangrik is. Daar was heelwat optogte waar ons as een nasie ons stemme dik gemaak het vir verandering. Die afgelope naweek het miljoene mense na Bloemfontein gereis om ‘n saamtrek by te woon om voorbidding te doen vir verandering.

Maar, die gebeurtenis wat die grootste impak op my gemaak het, was baie nader aan die huis. Die Records-pan het begin met ‘n gemeenskapsprojek om niebederfbare produkte vir behoeftige families in te samel. Hulle het ‘n familie in Florida geïdentifiseer en besoek.

Die manier waarop die gemeenskap saamgestaan het om nie net die Record nie, maar ook die gesin te help, het my heeltemal verbaas. Ek was erg trots om te sê ek is ‘n Roodepoorter. Ek is trots op ons plaaslike koerant vir hulle bydrae om mense se las te verlig, maar ek is meer trots op ons inwoners wat nie huiwer om saam te staan nie.

Dit is vir my verblydend om te sien hoeveel mense in ons gemeenskap nog werklik omgee vir hul medemens. Dankie dat julle elkeen my die geleentheid gegun het om te besef dat alles nie net altyd donker en negatief is nie.

Related Articles

Back to top button