Editor's choiceLocal newsNews

Passievol vir Afrikaans

Ontmoet Danie Bester – Afrikaanse filmvervaardiger

Hy het in die afgelope sewe jaar 22 vollengterolprente vervaardig en word as een van die sleutelpersone in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse filmbedryf beskou.

Danie Bester woon die afgelope ses maande in Florida Hills en, al beskou hy homself as ‘n jong burger in dié buurt, het hy gesê dat hy dit vreeslik geniet om daar te bly.

Volgens Danie het hy redelik laat met sy rolprentstudies begin. “Ek was reeds 23 toe ek by Africa Film Drama Art (AFDA) in Johannesburg begin studeer het, maar van dag een af het ek geweet dat ek my roeping gevind het,” het Danie gesê. Hy is in sy finale studiejaar as die beste skrywer en regisseur aangewys.

Hy beskryf homself as baie trots Afrikaans en glo dat ons kultuur en herkoms ons uniek in die wêreld maak. Dit word bewys deur die verskeie toekennings wat hy al verwerf het, onder andere, die Mr Video-toekenning vir sy bydrae tot die plaaslike rolprentbedryf, ‘n toekenning van Maroela Media vir sy bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf en twee Huisgenoot Tempo-toekennings vir sy rolprente Pad na jou Hart en Ballade vir ‘n Enkeling.

Vir Danie is die hoogtepunt van sy loopbaan wanneer ‘n rolprent werklik die kol tref en vir die gehoor meer as net ‘n storie is. “Dit is die wonder van die silwerskerm. Mense sit in ‘n donker vertrek en vir een oomblik dink, droom en leef hulle saam as een,” het hy vertel. Maar, soos enige beroep, is daar ook laagtepunte, en Danie antwoord sonder huiwering, “Die antwoord is presies die teenoorgestelde as my hoogtepunt. Dit is so hartseer as jy twee jaar van jou lewe aan ‘n prent spandeer het en niemand gaan kyk daarna nie!”

Sy motivering en inspirasie in die lewe is sy behoefte om altyd te verbeter op dit wat hy reeds gedoen het en om sy vrou en seuntjie trots te maak. “Ek verwag ook nie dat enige persoon wat saam of vir my werk, iets moet doen as ek dit nog nie self gedoen het nie,” het hy gesê.

Danie hou daarvan om in sy vrye tyd te kook en houtwerk te doen, maar sy gunsteling tydverdryf is om tyd saam met sy familie te spandeer.

Hy het afgesluit met die gedagte, “Ek hoop om ‘n positiewe rolmodel in my gemeenskap te wees, iemand wat trots is op sy Afrikanerskap. Ek streef ook daarna om ‘n goeie pa vir my seuntjie en ‘n goeie man vir my vrou te wees.”

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Randfontein HeraldKrugersdorp News and Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Related Articles

Back to top button