Editor's choiceLocal newsNews

Sesjarige het jou hulp nodig

Trustfonds gestig vir Zanerique wat met kanker gediagnoseer is

Vir meeste sesjariges is speel, hardloop en skoolgaan deel van hulle daaglikse roetine, maar nie vir Zanerique Toerien nie.

Sy is op 14 Julie met breinstam-glioma gediagnoseer – ‘n baie aggressiewe en gevaarlike kanker.

“Zanerique was ‘n normale en lewenslustige dogtertjie wat netbal gespeel het. Sy was in Graad 1 by Laerskool Horison en het baie goed gedoen,” het haar ma, Tersia Toerien vertel.

Volgens Tersia het Zanerique se simptome binne twee tot drie weke ontwikkel. “Ons het gesien sy verloor haar balans, dat haar een armpie hang en haar voetjie begin sleep. Haar spraak het agteruit gegaan en die een kant van haar gesig het opgetrek, soos wanneer iemand ‘n beroerte gehad het,” het Tersia vertel.

Hulle het haar na die Rahima Moosa Hospitaal geneem waar ‘n CT-skandering is gedoen. Daar is vir hulle gesê daar is ‘n kwaadaardige gewas op Zanerique se brein, wat nie goeie nuus is nie.

“Ons is na die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal verwys waar ons ‘n MRI moes laat doen. Die waglys was egter baie lank en ons sou eers die volgende week daarvoor kon teruggaan. Gelukkig het daar ‘n engel oor ons pad gekom en vir ons die MRI-koste by Life Flora Kliniek betaal sodat ons die skandering vroeër kon laat doen,” het Tersia gesê. Die radioloë by Dr Van Rensburg en Vennote by Flora Kliniek het na die prosedure die helfte van die MRI-koste teruggegee aan die persoon wat die bedrag geskenk het. Hulle het ook gesê dat hulle al Zanerique se prosedures in die toekoms sal betaal.

Met dié dat die prosedure vroeër gedoen is, kon Zanerique vinniger geopereer word, waartydens ‘n pypie van haar brein tot in haar maag ingeplant is om die drukking op haar brein te verminder.

Die kanker is ongeneesbaar en die gewas kan ook nie met ‘n operasie verwyder word nie, want dit kan meer skade veroorsaak. Volgens die dokters is die soort kanker ook nie oorerflik nie. Enigiemand kan dit opdoen en dit kom veral by jonger kinders voor.

Zanerique het op 11 Augustus haar 10 bestralingsessies voltooi. Die gesin moet ses weke wag voordat hulle weer die dokter kan gaan sien om te hoor of die bestraling die gewas laat krimp het. “Sy kan nie meer as 10 sessies bestraling ondergaan nie, want dit sal haar net sieker maak. Volgens die dokters sal meer of minder sessies ook nie ‘n verskil aan die siekte maak nie,” het Tersia vertel.

Die prognose lyk nie baie goed vir Zanerique nie en haar lewensverwagting is tussen ses en agt maande. Dit is verstaanbaar dat die situasie baie moeilik vir die familie is, maar volgens Tersia kan hulle nie heeltyd daarop konsentreer nie.

“Jy gaan nie die krag en energie hê om die tydjie wat oor is, saam met haar te geniet nie.”

Tersia het haar werk bedank om Zanerique voltyds te versorg. Hulle het nie ‘n mediese fonds nie maar het ‘n trustfonds gestig. Hulle sal enige donasies verwelkom. “Hierdie donasies sal gebruik word om vir Zanerique se mediese behandeling by Flora Kliniek te betaal. Dit is baie moeilik om Charlotte Maxeke Hospitaal toe te gaan en dan in die ry te moet sit en wag om gehelp te word.

Jy weet nie wanneer sy dalk stuiptrekkings kan kry of dringende mediese sorg nodig het nie,” het Tersia vertel.

Vir enige donasies of hulp vir Zanerique kan Tersia gekontak word by 082 893 5848. Daar is ook ‘n Facebook-blad vir Zanerique (Zanerique Support) waarop al die trustfondsinligting beskikbaar is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button