Local newsNews

Konsternasie voor die kansel

Die mans het soos vroue aangetrek terwyl die vroue in mansklere gepronk het

Roodepoort Sentrum vir Bejaardes se weergawe van ‘n agterstevoor troue wat hulle onlangs opgevoer het, het gesorg vir meer as net konsternasie voor die kansel.

Maatskaplike werker by die sentrum, Lizbe von Moltke het gesê die inwoners, familie en vriende het geskaterlag van plesier oor al die “akteurs” se kaperjolle. Die mans het soos vroue aangetrek terwyl die vroue in mansklere gepronk het.

“Die manne wat die rolle van die bruid en strooimeisie vertolk het, het met hul helderpienk strooimeisierokke, pruike en ‘n bietjie grimering sommer baie mooi gelyk. Die dames wat onder andere die rolle van die dominee, seremoniemeester, fotograaf, dokter, ouerpare en strooijonkers vertolk het, het in pakke met dasse en ‘n snor of baard gespog,” het Lizbe vertel.

Volgens haar was Anna Coetzee, ‘n bekende afgetrede onderwyser van Roodepoort die regisseur. Sy het gesorg dat daar behoorlik geoefen is en dat die afronding perfek was. “Dit was omtrent ‘n geskaterlag van begin tot einde. Lenie Grundling, ‘n inwoner van die Sentrum en bekende klereontwerper het spesiaal die allerpragtigste trourok vir die bruid en rokke vir die twee strooimeisies gemaak.

Dit het die gehoor lekker laat lag.

“Daar is tot ‘n onthaal aan die einde van die troue gehou waartydens die deelnemers en gaste heerlike eet- en drinkgoed kon geniet en saam kon kuier. Alles by hierdie troue was agterstevoor en dit het vir groot vermaak gesorg.”

Lisbe het gesê die geleentheid het personeel, inwoners en familie bymekaar gebring, saam laat kuier, en weereens bewys dat lag baie goeie terapie is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button