Local newsNews

Burger-leerling oorlede

Estelle Aldridge word onthou.

‘n Graad 10-leerling, Estelle Aldridge,16, van Hoërskool die Burger is op 22 Oktober na ‘n lang siekbed oorlede.

Estelle het in Februarie vanjaar ernstige kopbeserings opgedoen en moes die afgelope agt maande menige operasies ondergaan.

Alhoewel dit ‘n hartseertyd vir haar familie is, het haar ouers tere herinneringe aan haar.

“Sy was ‘n soet kind. Glad nie ‘n bakleikind nie,” sê haar stiefpa Richard Clarke. “Ons woon al 15 jaar hier en sy was baie gewild in die gemeenskap.”

Haar pa vertel staaltjies van hoeveel sy omgegee het en reeds as vierjarige die bure se babatjie wou oppas maar dan self nie kon wakker bly nie.

“Ons het nooit klagtes oor haar gehad nie. Sy het nie in die strate rondgelê, gerook of gedrink nie. Sy was eintlik baie familievas en het liewer televisie gekyk of saam met ons gekuier,” sê hy. Haar gunstelingprogram was Cake Boss en Estelle wou dan ook graag na skool in die gasvryheidsbedryf gaan werk.

Estelle se ma vertel weer dat Estelle baie naby aan haar ouma was en gereeld skelm daar gaan kuier het. Sy sê ook dat Estelle ‘n regte klein poetsbakker was.

“Wat my sterk hou is dat Estelle nou by die Hemelse Vader is, en natuurlik die mooi herinneringe aan haar,” sê haar ma met trane in haar oë.

“Moet nooit dink dit kan nie met jou gebeur nie. Pas jou kind op en waardeer hom of haar terwyl jy kan,” sluit haar pa af.

Estelle is op 27 Oktober in die Wes-Park begraafplaas te ruste gelê en laat haar ouers en twee sussies agter.

Related Articles

2 Comments

  1. Mag j no in vrede rus poplap… j is nooit vergete ni en altyd in ons harte. Mis jo bja :(

Back to top button