Local newsNewsSchool sportSportUpdate

Skoleboogskietklub in Witpoortjie gestig

Dis 'n opwindende sportsoort waaraan enige kind kan deelneem, vertel Wilhelm Greeff.

Boogskiet is nooit werklik wyd aan die Wes-Rand beoefen nie, maar dinge is aan’t verander.

Danksy Magda en Willem Wilhelm kan leerlinge nou ook na skool dié sport beoefen. In samewerking met die Nasionale Skole Boogskietprogram (National Archery in the Schools Programme – Nasp) het hulle met die afsluiting van die tweede kwartaal Laerskool Dr Havinga-leerlinge van boogskiet by die Werna-bane geleer. Die klub is nie by die skool geaffilieer nie en kinders van regoor die Wes-Rand kan aansluit.

“Ons wil hê kinders en hulle ouers moet verstaan dat boogskiet ‘n veilige en opwindende sport is,” sê Magda.

Onder leiding van Wilhelm en Frik Birkenstock van Nasp het kinders gou geleer hoe om veilig boog te skiet. ‘n Boogskietbaan met teikenstaanders of butts is aan die een kant is opgestel. Pyle is relatief stomp maar kinders word geleer om dit op ‘n sekere manier te hanteer vir veiligheid. Birkenstock het streng gewaarsku teen droogvuur (vuur sonder ‘n pyl) wat die spesiale boë, wat vir kompetisies ontwikkel is, erg kan beskadig. Terwyl Birkenstock kinders van veiligheid geleer het, het Greeff aan die ouers verduidelik hoe verrykend boogskiet kan wees.

“Daar is bewyse dat die leervermoë en dissipline van kinders in Amerikaanse skole wat aan dié sport deelneem, al baie verbeter het.”

Greeff skryf die verbetering toe aan die gebruik van ‘n fluitjie op die boogskietbaan.

“‘n Boogskut reageer op ‘n fluitjie wat een of twee of drie keer skril geblaas word as teken dat die baan oop is, geslote is, dat pyltjies gehaal kan word ensovoorts.

“As ‘n fluitjie vyf keer geblaas word leer kinders om onmiddellik op te hou skiet, siende dat dit ‘n noodtoestand of besering aandui.”

Die Nasp-program is in Amerika ontwikkel waar meer leerlinge tans aan boogskiet as aan die bofbal Little League deelneem, sê Greeff. Die sport word tans in 10 lande wêreldwyd beoefen. In Afrika het Namibië, Botswana en Zimbabwe ook aangesluit. Afrika-kampioenskappe word jaarliks in Oktober gehou en Greeff beoog dat Suid-Afrikaners teen 2016 die kans sal hê om hul Proteakleure in boogskiet te behaal. Die Nasp-program bied kinders tussen die ouderdom van 10 (Graad 4) en 18 (Graad 12) die geleentheid om nasionaal en internasionaal te kompeteer. Skoolspanne bestaan uit tussen 12 en 24 skutte.

“Almal neem saam deel; dit is nie ‘n eksklusiewe sportsoort vir ‘n spesifieke bou of gewig of fiksheidsklas nie.

“Selfs doofstommes is al in spanne opgeneem,” meen Greeff.

Die Wes-Rand Boogskietklub (‘n voorlopige naam vir die Wilhelms se klub) sal vanaf die derde kwartaal boogskiet by die Werna-bane langs Laerskool Dr Havinga aanbied. Vir verdere inligting skakel gerus vir Magda by 082 712 5744 of Willem by 82 813 7873. Besoek ook gerus die Nasp-webblad by www.nasp.co.za/home/.

Wes-Rand Boogskietklubtye:

• Woensdagmiddae van 2nm tot 2.45nm

• Woensdagmiddae van 3nm tot 3.45nm

• Woensdagmiddae van 4nm to 4.45nm

Koste:

• R220 per kind per maand

• R400 vir twee kinders (boeties en sussies) per maand

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button