Local newsNewsUpdate

Boerboel in Witpoortjie vergiftig

Dit blyk dat honde vergiftig word om motorfietse uit erwe te steel, sê Van Zyl.

‘n Boerboel is laat Maandagaand (16 Junie) in Adam Tasstraat, Witpoortjie vergiftig.

Eienaar Ina Herbst het hartseer vertel hoe sy haar geliefde Boerboel-teef gisteraand siek in die erf gekry het.

“Sy het nie lekker gelyk nie, sy het nie baie beweeg nie en haar maag was geswel,” het sy gesê.

Sy het haar hond, wat al 10 jaar lank haar huisgesin veilig hou, Dinsdagoggend dood in die erf aangetref. Herbst het onmiddellik die buurtwag geskakel, wat die polisie ingelig het. Die drie ander honde op die erf, waarvan een ‘n pitbull is, is nie beseer of vergiftig nie.

Herbst glo die boewe was agter haar seun se motorfiets aan, wat gewoonlik in daardie gedeelte van die erf parkeer word. Die gesin het gelukkig die motorfiets Maandagaand elders parkeer, het sy gesê.

“Mens weet nooit of hulle beplan om vannaand terug te keer nie,” het ‘n polisieman op die toneel gesê en die gesin gewaarsku om op die uitkyk te wees. Hulle is aangeraai om beide die buurtwag en sektorpolisie te skakel sou hul enigiets agterdogtig opmerk.

Herbst vermoed die hond is met Two Step vergiftig, ‘n skoonmaakmiddel wat gereeld gebruik word om diere te vergiftig.

Volgens die West Suburbs Roodepoort Neighbourhood Watch (voorheen Witpoortjie Block Watch) word honde in die area af en toe vergiftig.

“Dit lyk my dit duik nou weer op waar hulle motorfietse in die erf sien,” het woordvoerder Frik van Zyl gesê.

Twee honde is verlede jaar in Augustus in Witpoortjie vergiftig om ‘n motorfiets te steel.

Related Articles

3 Comments

  1. Dieselfde het met ons ook gebeur donderdag die 12de Junie is een van ons honde ook vergiftig ons het 4 motorfietse in ons erg ons is ook van die omgewing ons hond is ook met two step vergiftig

  2. Dis baie hartseer.Bly in Proot straat.Donderdag die 5de junie 2uur die oggend het iemand ook ons twee huskies vergiftig.Al twee honde is dood.

  3. Hierdie Storie maak glad nie sin nie. Die joernalis skryf dit is vergiftiging? Eerstens, ‘n boerboel se lewensduur is sowat tien jaar en tweedens die klink nie na ‘n Two Step vergiftiging nie. As die hond wel vergiftig is moet dit iets anders wees. Vir my klink dit of die hond haar lewensjare uitgeleef het. Indien die hond met two step (‘n insekdoder wat boere op landerye gebruik – as ‘n skoonmaakmiddel moet die korrels seker lank in die water week of hoe?) vergiftig is sou die hond gebraak het en daar sou skuim uit haar bek gewees het. Dit sou ook gelyk het of wurms oor haar liggaam beweeg. Simptome is nie ‘n opgeswelde maag nie. Ook waar was die ander honde? As hulle saam haar buite was sou hulle ook die braaksel ingekry het, want hulle sou nie twee keer dink om dit te vreet nie. En slegs ‘n veearts kan bevestig dat dit wel Two Step was en om dit te bepaal moet die dier se maag oopgesny word. Dit sou dalk help om sodoende kommentaar van ‘n plaaslike veearts te kry. Nee wat hierdie storie het te veel haakplekke en dit wil vir my voorkom of die redakteur of subredakteurs nie moeite met die storie gedoen het nie en toelaat dat feitelose stories gepubliseer word. Of miskien lê die probleem nog verder soos by die tak bestuurder wat nie toesien dat dinge reg gedoen word nie. Hierdie koerant het hopeloos te veel foute en ek begin dink daar is ape wat daar werk.

Back to top button