Local newsNews

Twee word 101 by Roodepoort Sentrum

Beide oom Dawie en Rosie word 101 en kuier lekker saam met ander inwoners.

Dit was een groot partytjie vir twee 101-jariges by die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes op Woensdag 31 Julie.

Volgens Marianne Ferreira (bestuurder) is beide oom Danie Louw en Rosie Binda nog vol dinge op hul ryp ouderdom. Oom Dawie Louw het eintlik sy 101ste verjaarsdag op 28 Julie gevier terwyl Rosie haar verjaarsdag op 7 Augustus sal vier.

“Albei word 101 en ons inwoners het besluit om van voor af te tel, dus was ons twee 101-jariges in ‘n saal vol van hul maatjies.

“Die twee sterre van die dag is elkeen ‘n teddiebeer as geskenk gegee en die eetgoed was als waarvan ‘n kleintjie kan droom; dit was net lekkergoed en skyfies waar jy kyk.

“Die Jollie Menere-boereorkes het opgetree en die personeel wat altyd in ons waskamer doenig is, het pragtig Happy Birthday vir Rosie en oom Dawie gesing.

“Christine Human het ons almal vermaak met voordrag oor bekende situasies uit die ou dae.”

Marianne het ook meer inligting oor oom Dawie en Rosie met die Record gedeel.

Oom Dawie, wat op 28 Julie 1912 gebore is, is die oudste van sewe kinders en is twee keer getroud. Hy het twintig huweliksjare saam met sy eerste eggenote spandeer en daarna het hy met tannie Bets getrou, met wie hy reeds 34 huweliksjare deel. Hy het twee kinders, nege kleinkinders en 16 agterkleinkinders. Hy geniet dit om te lees en glo daarin om sy familie en vriende te koester.

“Op 101 het hy nog lekker saamgedans toe die boereorkes by die partytjie optree.”

Rosie is in Grahamstad op 7 Augustus 1912 gebore en is die derde oudste van agt kinders. Sy was met ‘n Portugese mynkaptein getroud en het meer as 50 jaar saam met hom spandeer tot sy afsterwe. Hulle het twee seuns gehad, waarvan die oorlewende in Zimbabwe woon. Haar drie agterkleindogters bly in Australië.

“Sy fasineer altyd die staf met stories oor haar jeug.

“Op 101 voltooi sy nog blokkiesraaisels en brei graag, sonder brille!”

Marianne en die Sentrum wens albei die mooiste toe vir die toekoms.

 

Related Articles

Back to top button