Boer Damian vind liefde by plaasseun Flippie

“Wie sou kon raai uit duisende briewe sal die nie-geskryfde brief die een wees wat my hartstaal praat”

Boer Damian Engelbrecht (39) van Boer soek ‘n vrou-faam se internetliefde het toe in ‘n egte liefdesverhaal ontvou.

Dié aanlyn-romanse met Flippie van den Berg (28) in Desember het in ’n daaglikse drie-uurlange video-oproep vanuit die verre Taiwan ontwikkel.

Flippie is ’n Engelse onderwyser wat vir die afgelope drie jaar oorsee klas gegee het.

Tans bring dié blou-oog-boerseun wat onlangs vir hom Boranbeeste en ’n trekker aangeskaf het, sy tyd, hand aan hand met Damian op die plaas deur.

Damian het speels vertel hoe hulle slegs twee maande gelede mekaar in lewende lywe op die lughawe herontmoet het.

“Ons het mekaar al redelik goed geken na ses maande se boodskappe, maar om hom te sien stap toe die deure oopswaai, was die groot oomblik.

“Ek het hom ’n lang druk gegee en daar was ’n welkom terug-soen,” het Damian laggend vertel.

Hier op Rietenbosch word daar saam bees en skaap geboer.

Hoewel Flippie nog deeltyds as vryskutonderwyser ekstra klasse in Pretoria aanbied, is die plaaslewe met die vlaktes se uitsig en ’n lekker koffie op die stoep, die lewe waarvan albei eens op ’n tyd gedroom het.

Damian beskryf Flippie as ’n normale boerseun in wie hy sy sielsgenoot gevind het.

“Hy het al die kwaliteite waarna ek nog altyd gesoek het in ’n pasmaat.

“Hy vind aanklank op die plaas en geniet lang gesprekke op ’n stofpad of om te gaan stap met die honde teen skemer.

“Ons albei was gereed vir ’n ernstige verhouding en vul mekaar net so goed aan.”

Damian is dolverlief en sy wange gloei van geluk as hy eers begin gesels oor waar sy glimlag vandaan kom.

Flippie het egter op ’n naweek-wegbreek vir sy boer die kys gevra, hoewel Damian al reeds die aap soort van uit die mou gelaat het op sy sosiale media-platforms met die ander paar vellies wat langs syne ingeskuif staan.

Die woorde: “ek is lief vir jou” het al van beide kante af van die een mond na die ander geglip, tog spot Damian dat hy eerste sy gevoelens aan sy blondekop-boer verklap het.

“Dit moes vir hom eers insink, maar vir my was dit beslis liefde met die eerste oogopslag.

“Ek het dadelik geweet al sou dit nog maande neem om hom in te wag vir sy besoek aan Suid-Afrika, dat hier potensiaal is vir liefde soos geen ander.”

Die geliefdes het ook toekomstige avonture in die pyplyn soos om moontlik ’n ‘tiny house’ binne in die bos te bou wat uitverhuur sal word vir toeriste of inwoners wat wil kom wegkruip en asem skep tussen die bosveld se mooi. Damian het vertel dat Boer soek ’n vrou aan hom die geleentheid gegee het om raakgesien te word.

“Flippie het my op die kassie gewaar daar in Taiwan en reeds besef ons is mekaar se soort mense, maar hy kon toe nie inskryf nie en het eers ná die verfilming na my uitgereik. Nou stap ons die paadjie tot die stofpad opraak.

“Ons sien kans vir baie, veral saam met mekaar.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button