Evander se Ronnie Nelson sterf

Hy was onder meer op die bestuur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se Teksa-tak, die bestuur van die VF+ se plaaslike tak, AfriForum en AfriForum Buurtwag op Evander, Solidariteit en Helpende Hand en Evander se GPF.

EVANDER – Mnr. Ronnie Nelson, ‘n jarelange en bekende Evander-inwoner, is vanoggend, 27 Desember, in die ouderdom van 65 jaar dood.

Mnr. Nelson was ‘n bekende in die gemeenskap van Evander en Secunda en het op verskeie komitees gedien.

Hy was onder meer op die bestuur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se Teksa-tak, die bestuur van die VF+ se plaaslike tak, AfriForum en AfriForum Buurtwag op Evander, Solidariteit en Helpende Hand en Evander se GPF.

Volgens sy vrou, Rika, het mnr . Nelson ‘n hart vir sy gemeenskap en ‘n dienende gees gehad.

“As iemand ‘n klagte gehad het, was hy daar – van misdaad tot munisipale dienste.”

Me. Nelson het vertel dat haar man die afgelope 51 dae in die waakeenheid van die Sunward Park Hospitaal in Boksburg was.

“Ronnie was met Meckel se divertikulum gebore en is weens komplikasies daarmee dood,” het sy verduidelik.

Meckel se diverticulum is ‘n aangebore toestand waar ‘n abnormale sakkie of bult weens die oorblyfsels van ‘n naelstring in die laer deel van die dunderm gevorm het. Dit kan obstruksie in die ingewande veroorsaak.

Me. Nelson vermoed ‘n obstruksie het gevorm nadat mnr. Nelson vroeg in November beseer is toe hy ‘n uil wou red.

“Mense het die uil met klippe bestook en Ronnie het tot die voël se redding gekom. Hy het in die proses geval en seergekry.”

Mnr. Nelson is op 7 November in die hospitaal opgeneem en is op 9 November geopereer.

Volgens me. Nelson was haar man eintlik ‘n gesonde mens wat in sy jonger jare vir Suidoos-Transvaal op die rugbyveld uitgedraf het.

Hy het vir jare Evander se rugbyklub aan die gang gehou.

Hy het op 42-jarige ouderdom die Comrades Marathon vir die eerste keer aangedurf. Hy het sedertdien hierdie wedloop ses keer voltooi.

Mnr. Nelson het vir 34 jaar vir Harmony Myne as elektrisiën en ook as veiligheidsoffisier gewerk en het ook vir 11 jaar as elektrisiën by Sasol se Syferfontein Myn gewerk voordat hy aan die begin van 2020 afgetree het.

Hy laat sy vrou, sy twee seuns Robert en Claude en twee kleinkinders, Ashley (11) en Keagan (8) wat by die Nelson-egpaar aan huis gewoon het, agter.

Me Nelson het almal wat haar gesin in hierdie tyd ondersteun het, vir hul omgee bedank.

Me. Aranda Buitendag-Nel van die Vryheidsfront Plus het vertel dat mnr. Nelson in 2016 by die party aangesluit het.

“Hy was ‘n kandidaat in die 2016-verkiesing en het ook die pos as seketaris en penningmeester op die ou VF Plus-tak van Secunda beklee.

“In Julie vanjaar is daar weer n tak gestig en mnr. Nelson is toe as tesourier verkies. “Ronnie Nelson was ‘n besondere mens. Hy het vir sy medemens gelewe,” het me. Buitendag-Nel gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button