Editor's note

MENINGSTUK – Deel van die YouTube-generasie

Dit is ’n geklingel en getingel en toe is dit nag.

Dit is die era van tegnologie en jongmense loop gereeld onder kritiek van hul seniors deur omdat hulle alewig voor een of ander skerm vasgenaal is.

Maar dit is immers die ouer garde wat rigting soek wanneer hulle vir oubaas Piet wil WhatsApp, maar nog nie die kruks van dié toep verstaan nie.

Hoewel ek ook ’n kleintjie dood het aan mense wat sommer só in die gesels hul fone uitruk en met ’n halwe oor na jou luister, besef ek dat ek maar redelik beperk funksioneer sonder die toepassings op my foon.

Ek besef my afhanklikheid en dat ek óók deel van die YouTube-generasie is.

Nou die dag besluit ek om so bietjie my bosbaard uit te dun, maar besef die skeermasjien benodig olie en ’n goeie stukkie skoonmaak.

Op dié “elektroniese-skêr”… merk ek twee skroewe en dit neem my nie langer as vyf sekondes om dit flink los te draai nie.

“Righty tighty lefty loosy,” herinner ek myself.

Dit is ’n geklingel en getingel en toe is dit nag.

Eers is dit raai-raai-riepa terwyl ek probeer sin maak waar al die onderdele is, wat met die losdraai oral oor die vloer gestrooi is, vandaan kom en vir twee ure daarna hoe om dit weer aanmekaargesit te kry.

Na verskeie YouTube-video’s, kry ek die spulletjie weer so half en half aanmekaargesit, maar tog gebeur niks as ek dit met ’n #2-lem teen my wang vasdruk nie.

Ek neem toe die besluit om die #2-lem af te haal…

Nou ek weet nie of jy daai miaau wat ’n kat met sy bek wawydoop en sy tong in ’n U-vorm gekrul, maak as die hond skielik besluit, “Nou is dit ‘tickets’ met jou nie”, maar dis mos toe nou min of meer die klanke wat by my mond uitkom toe dié masjien aan die hare vasbyt en nie wil los nie.

Waaghalsig wikkel ek die hare uit die gedoente se bek en besluit summier die kool is die sous nie werd nie, daarbenewens het ek nie regtig ’n probleem met ’n baard nie.

Dit help vir seker met die illusie dat ek ’n Cortina-enjin kan ‘strip’.

Dan vra mense nog, waarom die koerantwese Wayne?

Related Articles

Back to top button