Vroue van Ermelo is steeds opsoek na ’n stuk grond om ‘n veilige hawe vir Ermelo se straatdiere op te rig

Hulle het n beroep gedoen op die gemeenskap indien enige iemand weet van beskikbare grond wat hulle kan gebruik vir die oprig van ‘n hawe vir die diere, om hulle te kontak

Die Hoëvelder het onlangs berig oor die twee vroue van Ermelo wat die organisasie Hope Animal Rescue gestig het.

Me. Liezl Oosthuizen en me. Lunette Symington het die nood vir ’n veilige hawe vir diere op Ermelo raakgesien en kon nie toekyk hoe Ermelo se straatdiere vergeet word nie.

Die uitdaging wat hulle steeds ondervind is om ’n stuk grond tot hul beskikking te kry wat ingerig kan word as ’n veilige tuiste vir rondloper diere.

Hulle het ’n beroep op die gemeenskap gedoen vir enige iemand wat van beskikbare grond weet wat hulle kan gebruik vir die oprig van ’n hawe vir die diere, om hulle te skakel.

“Sonder ’n stuk grond het ons geen plek om die diere te versorg tot hulle aangeneem kan word nie,” het me. Symington gesê.

Hulle het die organisasie gestig as ’n nie-winsgewende organisasie met die oog om die diere wat daagliks op straat te sien is, ’n beter lewe te kan gee.

Die naam van die organisasie beeld uit dat hulle elke rondloper dier hoop wil gee.

Dit het begin toe hulle ’n boks met babahondjies op die vullisterrein opgetel het en daar geen hawe was waarheen hulle kon gaan nie.

“Op die stadium is dit vreeslik moeilik om al die diere te help, maar ons probeer vir elke dier wat na ons gestuur word, ’n liefdevolle tuiste te kry.”

Me. Symington het verder vertel dat daar tans ’n groot probleem op Ermelo is weens eienaars wat hul diere weggooi en ander wat verhuis en hul diere in die erf agterlaat, meestal sonder kos en water.

Die idee wat die twee vroue met Hope Animal Rescue het, is om nie net die verlore diere van Ermelo in hokke aan te hou nie, maar om vir hulle ‘n veilige hawe te gee waar daar ook tyd is vir speel. Hulle soek ‘n stuk grond om dié plek op te rig. (Foto: Verskaf)

Indien hulle ’n geval kry waar diere nie ’n tuiste het nie, maak hulle tans van sosiale media gebruik om die diere te adverteer vir aanneming.

Op die vraag of hulle dink dat daar genoeg geld sal inkom van die gemeenskap om die program ’n sukses te maak, het me. Symington geantwoord dat hulle wel daaroor vrees, maar dat die gemeenskap van Ermelo tot dusver elke keer hul harte en beursies oopgemaak het om die diere te help.

“Ons glo dat as Ermeloërs hande neem en saam werk dat die projek ’n sukses sal wees en dat daar minder diere op ons strate sal rondloop.”

Hulle het nog groot planne en die uiteindelike doel is om by die perseel ook ’n koffiehuis oop te maak waar mense die dag kan deurbring en liefde en aandag aan die vergete diere gee.

Hulle het tans geldinsamelingsboksies by ondernemings op Ermelo en so ver as Carolina geplaas het om dit vir die gemeenskap makliker te maak om donansies te skenk. Indien daar ondernemings is wat sal belangstel om van die boksies by hul ondernemings te plaas, kan hulle me. Symington skakel vir meer inligting.

Indien enige iemand by die organisaie betrokke wil raak of donasies wil maak, kan hulle me. Oosthuizen skakel by 073 886 9059 of me. Symington by 082 305 5108.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button