Secunda-vrou wou nie skool toe gaan nie, maar net dans

Ma’s doen ‘line dancing’ by dans-akademie.

SECUNDA – Vir me. Tilana Matthee was dans van kleins af belangriker en lekkerder as skool.

Sy het reeds vir 18 jaar ’n dans-akademie op Secunda en het tans 70 dansers in haar groep.

“Ek onthou as kind wou ek nooit skool toe gaan nie, ek wou net dans,” het sy vertel.

Sy was vyf jaar oud toe haar ma haar by haar tannie se dans-akademie laat dans het en toe sy 16 was, het sy haar eksamen afgelê om ’n junior dansonderwyser te word.

Sy het op hoërskool by haar tannie, me. Ina van Zyl, se nuwe dans-akademie wat sy op Bronkhorstspruit oopgemaak het, begin klas gee.

Dansers dring deur na eindronde van Dans in jou Taal-kompetisie

Sy het in dié tyd gedurende skoolure, gehelp met afrigting by ’n laerskool op Bronkhorstspruit se revue en dié skool het haar sommer ’n permanente pos aangebied, maar haar pa het gesê sy moet eers klaarmaak met skool.

“Ek het vir my pa gesê hy moet my help om my eie dans-akademie oop te maak, ek wil net dans, ek wil nie skoolgaan nie,” het me. Matthee gesê.

Haar pa het egter gemeen sy moet eers klaarmaak met skool.

Sy en haar jonger suster het albei in dié tyd aanbiedinge gekry om op ’n passasierskip te dans, maar haar pa het nee gesê.

Me. Matthee se ouers is geskei en sy het eers by haar pa in Pretoria gebly en daar skoolgegaan, maar sy het later na haar ma op Secunda getrek en in gr. 11 skool verlaat en voltyds aan haar eie dans-akademie gewerk en ’n kursus in skoonheid voltooi.

Me. Matthee se dans-akademie was vir 10 jaar by die Evander-klub, waarna sy dit na Laerskool Secunda geskuif het. Vandag huur sy ’n saal by Willow Creek by Terra Nova op Trichardt.

Haar droom is om eendag haar eie gebou te hê sodat sy versierings teen die mure kan ophang en enige tyd kan gaan dans of klasse kan aanbied wanneer sy wil.

Me. Matthee se dansers kwalifiseer jaarliks vir die Suid-Afrikaanse span wat gewoonlik oorsee gaan deelneem, maar hulle het nog nooit gaan deelneem nie omdat dit te duur is.

Dans help jou om ’n beter uitkyk op die lewe te hê, meen dansinstrukteur van Secunda

Hulle sou vanjaar gaan deelneem het en het geleenthede gereël om geld in te samel, maar dit sou sowat R47 000 per persoon kos en elke danser moes ’n volwassene saamneem.

“As ek en my man en twee seuns sou gaan, sou dit ons meer as R180 000 gekos het en dit is net te veel geld. Die ouers het ook nie so baie geld om vir hulself en hul kinders elkeen R47 000 te betaal nie.”

Die geld wat me. Matthee wel verlede jaar ingesamel het, het sy toe aangewend om nuwe matte en spieëls in die saal waar sy klasse aanbied, in te sit.

Sy het as jong danser jaarliks haar provinsiale kleure en nasionale kleure in dans verwerf en sy dans deesdae steeds soms saam met die kinders.

Sy het onlangs begin om ook klasse vir ma’s aan te bied.

“Ons doen ‘line dancing’ en dit is baie lekker,” het me. Matthee gesê.

Haar dansers se ouers het haar aangemoedig om vanjaar vir die eerste keer vir die KykNET-kompetisie, Dans in jou Taal, in te skryf en me. Matthee het 11 dansgroepe ingeskryf.

Vyf van dié 11 groepe het deurgedring om einde Augustus aan die eindronde deel te neem.

“Ons berei nou voor vir die eindronde. Dit is nogal spanningsvol en ek laat nou die kinders op ’n verhoog dans sodat hulle meer gemaklik sal wees in die kompetisie.

“Die kompetisie is nogal intimiderend, want daar is groot ligte en dinge waaraan my dansers nie gewoond is nie.”

Dans in jou Taal word in Januarie op KykNet uitgesaai.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version