Polisiebloed loop dik in Lt.-kol. Ronnie Schilling se are

“Veral op ’n kleiner dorp moet jy, ter wille van oorlewing, jouself staal teen die dinge wat jou pad kruis.

Die gange van die ou Vyfstertronk in Kerkstraat het weer lewe.

Lt.-kol. Ronnie Schilling en die personeel van die Ermelo Gebiedseenheid (Cluster) van Ermelo Polisie sit gereed om die 12 eenhede, onder hul bevel, te dien.

As gebore Vrystater, wat sy kinderlewe op Ventersburg deurgebring het, het hy sy droom om eendag “hondeskool” toe te gaan, uitgeleef.

Dié seun van ’n polisieman het baie jare se ondervinding in die polisie agter die rug waarvan die trofees in sy kantoor van sy toegewydheid getuig.

Hy is in laat 1981 deur sy pa as studentkonstabel ingesweer en het sy basiese opleiding in Pretoria voltooi en het in Desember 1982 uitpasseer waarna hy as operasionele polisieman in Norwood werksaam was.

Hy het dit beleef as ’n ervaring duisend, maar sy droom was steeds om in die honde-eenheid te wees.

Lees ook: Ontmoet mnr. André van Rooyen, die man agter die Ermelo Lugskou

Intensiewe opleiding by die opleidingskool was ook deel van sy opleiding en grensdienste het gevolg.

Nadat hy op Evander gewerk het, is hy na een van die destydse Oos-Transvaalse honde-eenhede op Middelburg verplaas en het hy die derde van die Schilling-broers geword om in dié eenheid opgeneem te word.

Hy het met trots vertel dat hy en sy broers dieselfde range dra.

Opleiding by die hondeskool in Pretoria het gevolg.

“Ek onthou nog die dag met die bang hond by die hondeskool toe Rex, ’n Duitse herdershond, deel van my lewe geword het,” het hy gesê.

Na afloop van sy kursus, het hy en Rex as naasbeste hanteerder en hond geëindig.

Hy het in 1989 sersant geword en daarna deur die range gevorder totdat hy in 1992 sy Diploma in Polisie-administrasie aan die Technikon RSA verwerf het.

Hy is intussen met Beatrice getroud en hul eerste kind, ’n seun, is gebore.

Nog twee dogters later, was die gesin voltallig.

Hy en Rex was ’n goeie span en onafskeidbaar.

Rex was nooit in ’n hok of agter in die voertuig nie, maar altyd aan sy baas se sy.

Saam het hulle graag die kinderhuis op Middelburg besoek en die inwoners se harte met hul toertjies verbly.

’n Hoogtepunt in sy loopbaan as hondeman was die dag toe hy en Rex suksesvol in hul eerste springstofsaak was en hy onthou dit soos gister.

Daarna het vele suksesvolle inhegtenisnemings gevolg en hulle het verskeie eenhede bygestaan.

Na 10 jaar se saamwerk, is Rex weens kanker aan diens onttrek.

Hy het sy offisierskursus in 1993 voltooi, is bevorder na die rang van luitenant en aangestel as bevelvoerder van die honde-eenheid op Ermelo (K9).

Nog ’n bevordering na die rang van kaptein het gevolg en na baie jare het hy ’n majoor en uiteindelik ’n luitenant-kolonel geword.

’n Groot eer het hom te beurt geval toe hy deur Tracker die geleentheid gebied is om om Amerika te besoek.

Besoeke aan Las Vegas en die Grand Canyon sal hom altyd bybly.

Saam met die rang van lt.-kol. het ook verplasing na die gebiedseenheid (cluster) gekom en moes hy die honde-eenheid groet.

“Die lewe van ’n polisieman is nie altyd maklik nie.

“Veral op ’n kleiner dorp moet jy, ter wille van oorlewing, jouself staal teen die dinge wat jou pad kruis.

“Saam met eerste op die toneel wees, kom daar ook slegte ervarings, veral as mense wat jy ken, betrokke is.”

Kolonel Ronnie, soos hy bekendstaan, het bygevoeg dat hy nog in Suid-Afrika glo en optimisties is oor die land en sy mense.

Hy glo dat dit, ten spyte van al die misdaad, weer beter sal gaan.

Hy is ’n baie betrokke pa en oupa en moes, weens sy werk, baie tyd met veral sy oudste kind inboet.

Hy het van ondervinding gepraat dat dit nie maklik is om ’n polisieman se kind te wees nie.

’n Geraamde rugbytrui teen sy kantoormuur wys waar die Vrystater se lojaliteit lê en spreek ook van sy betrokkenheid met polisiesport.

Hy was betrokke by polisiekrieket, -visvang en -rolbal en geniet vandag steeds ’n sosiale, potjie rolbal.

Hy hou van onthaal en is op sy gelukkigste as hy sy familie en mense rondom hom het.

Hy het ook gesê dat hy groot vreugde daaruit put om mense te help.

Diere is ’n groot liefde en tuinwerk is ook vir hom lekker en hy kon met trots van sy mooi tuin praat.

Hy het gegroet met ’n boodskap dat mense nooit moed moet verloor nie, maar aanhou glo, ongeag van wie jy is en wat jou omstandighede is.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version