Die jaar lê op sy rug

As ek my oog knip, is dit alweer skoolvakansie.

Die kwartaal is in ’n oogwink verby en Vrydag sluit die skole alweer vir die lang vakansie.

Toe ek ’n kind was, het die kwartale vir my oneindig lank gevoel en die skoolvakansies het blitsvinnig verbygegaan.

Nou voel dit vir my of dit omgeruil het.

As ek my oog knip, is dit alweer skoolvakansie.

Ek het nie meer kinders op skool nie, maar kan nie help om te wonder hoe hou ’n werkende ma haar kinders heeldag vir 53 dae besig nie.

Ek was deel van ’n groot gesin met susters baie ouer as ek, dus was ons skoolvakansies versorg en het sommer altyd maatjies gehad om mee te speel.

Destyds was omstandighede ook baie anders.

Dit was veilig om ouer kinders alleen by die huis te los en kinders kon vry in die strate en parke speel en fietsry.

Vandag moet ouers hul kinders in nasorgsentrums, teen ’n fooi natuurlik, los of hulle laat inskakel by vakansieprogramme.

Sommige is gelukkig om voltydse huiswerkers te hê wat sommer ’n ogie oor die kinders kan hou ook.

Kinders speel ook nie meer so baie buite soos in ons dae nie.

Hulle is meer huisgebonde en bedrywig met televisiespeletjies, rekenaars, tablette en ander tegnologiese dinge.

Ek is jammer vir dié ouers wat nie kan bekostig om hul kinders buitemuurs besig te hou nie en wat planne moet maak om te sorg dat hulle kinders elke dag van die vakansie versorg en onder toesig is.

My dogter is ’n onderwyser en sy is kinderlik opgewonde oor die lang vakansie wat voorlê.

Ek moet bieg ek sou nie omgee om vir sowat ses weke by die huis te bly en net te ontspan nie.

Ek dink ook aan die gr. 12’s wat nou vir oulaas die skoolbanke groet en wens hulle alles wat goed en mooi is in die grootmenswêreld toe.

Dan is daar natuurlik volgende jaar se gr.1’s wat klaar skoolklere gekoop het en die slapies tel om volgende jaar grootskool toe te kan gaan.

Ek wens alle kinders en onderwysers ’n rustige vakansie toe en glo dat julle volgende jaar verfris terug sal kom om weer die die groot taak, wat op julle wag, te verrig.

Sterkte ook aan die ouers wat die kinders moet besig hou tydens die lang vakansie.

Related Articles

Back to top button