EntertainmentLifestyle

Oom Ref van Bethal stel eerste boek vry

Baie van die staaltjies waaroor hy skryf, spruit uit die bykans 20 jaar wat hy op ’n familieplaas in die Bethaldistrik geboer het.

BETHAL – Mnr. Hendrik Hancke (72), ook bekend as Oom Ref of Oom Hendrik, is nog helder van verstand en het onlangs sy boek, Kleintyd Herinneringe & Kontrei-stories, bekendgestel.

Hy is nederig en plat op die aarde, soos almal hom ken, en praat nie graag oor homself nie.

Meeste van die gebeure in die boek speel in die Bethal-distrik af.

“Die boek handel oor dinge wat ek as kind kan onthou en ondervind het.

“Ek was ’n nuuskierige kind en het baie oor die familie se geskiedenis en gebeurtenisse uitgevra.

“Dit is ’n groot seën dat ek so ’n goeie langtermyngeheue het,” het mnr. Hancke vertel.

Hy is op 13 Augustus 1945 op Bethal gebore en het sy skoolopleiding aan Hoërskool Hoogenhout voltooi, waarna hy aan die Universiteit van Pretoria en die Rijksuniversiteit van Gent in België studeer het.

Mnr. Hancke was in diens van die Departement van Landbou, Ekonomie en Bemarking vir vier jaar.

Baie van die staaltjies waaroor hy skryf, spruit uit die bykans 20 jaar wat hy op ’n familieplaas in die Bethaldistrik geboer het.

Die groot aantal veediefstalle en die ontwikkeling van Sasol het daartoe gelei dat hy sy boerdery gestaak het en hom op Bethal gevestig het.

Hy praktiseer as finansiële adviseur en eiendomsverhandelaar.

“Ek wil my opregte dank en waardering betuig teenoor Pieter en Letichia Bruwer vir hul groot bydrae om die boekie persklaar te kry,” het mnr. Hancke gesê.

Nog ’n bekende skrywer van Bethal, me. Francis Grobler, het in ’n kort opsomming die boek as volg beskryf:

“Sommer-so, sonder seremonie skuif hy half ongeërg ’n kopie in my hand en sê: ‘Jou groot-ouma Francina se pedigree is ook daarin…

“En so voltooi my oë vroeër vanmiddag die laaste lyn in Oom Hendrik Hancke se boek: Kleintyd Herinneringe & Kontrei-stories, pas vrygestel deur Springbok Boeke.

“Ek stik amper in die nuwe agting vir hierdie merkwaardige man wat in groot nederigheid en uniekheid dít wat andersins soos soetriet en nastergal en boerseep stilletjies sou verdwyn het, vir ons laat voortleef.

“Die skryfstyl is bondig dóg kleurvol met plek-plek argaïese verwysings wat die inhoud komplementeer.

“Wat ’n voorreg om dié staaltjies en oorlewerings te mag verslind en selfs gedeeltes daarvan te eien… soos ‘Kwaaiman en Bles’ en ‘Die wonders op Palmietfontein’ en ‘Groter Bethal-kontrei’.

“’n Móét vir elke koffietafel.

“Dankie Oom Hendrik… ‘Ngiyabonga Mavumazonke’… soos Bles sou sê…”

Mnr. Hancke het gesê: “Dié boekie het sy ontstaan te danke aan herhaalde versoeke van familie en vriende om van die herinneringe van my op skrif te stel omdat daarvan verlore mag gaan met my afsterwe.

“Ek poog om hiermee in ’n mate aan daardie versoeke te voldoen en dra dit ook aan hulle almal op.

Kleintyd Herinneringe & Kontrei-stories is op Groep7 se aanlyn boekwinkel beskikbaar by www.groep7.co.za of mnr. Hancke se Facebookbladsy.

Bestellings kan ook per epos by hendrikhancke@gmail.com gedoen word.

Die jong vrou voor die klavier uit die boek Kleintyd Herinneringe & Kontrei-stories

Ek skryf hierdie verhaaltjie bloot weens die feit dat dit ’n groot indruk op my as kind gemaak het.

Wie die mense was en of hulle in die Vrystaat of Transvaal gevestig was, weet ek nie.

Wat ek wel weet, is dat dit as die waarheid deur my Moeder aan my oorvertel is.

’n Jong egpaar het hulle op ’n plaas gevestig, mettertyd ’n huisie gebou en ’n lewe uit hul boerderytjie gemaak.

Die jong en begaafde vroutjie was ook musikaal en het ’n klavier besit wat sy goed kon bespeel.

Met die uitbreek van die Boere-oorlog is die jongman opgeroep en het hom by ’n Boerekommando aangesluit.

Na verloop van tyd bevind sy kommando hom in die omgewing van sy plasie en die jongman vra toe verlof van sy Kommandant om sy plaas en vrou wat toe nog op die plaas was, te besoek.

Met die nodige verlof val hy in die pad en bereik na sononder sy plaas.

Soos wat hy naderkom sien hy dat daar ’n liggie in die voorkamer brand maar ook dat daar ’n perd van ’n Engelse offisier voor die huis staan.

Hy loer deur die venster en sien dat sy vroutjie laggend voor die klavier sit en speel met ’n Engelse offisier wat daarnaas sit en die musiek en geselskap geniet.

Sy teleurstelling en gepaardgaande woede kry die oorhand en hy gryp sy geweer en skiet haar sowel as die Engelse offisier voor die klavier dood.

Teen sonop laai hy haar lyk op ’n kruiwa en begrawe haar daar op die plaas.

Hartseer, ontredderd en gebroke sluit hy hom weer by sy kommando aan.

Met verloop van tyd kry die kommando ’n berig van Danie Theron se verkennerskorps oor ’n groot verlies hul te beurt geval het, te wete dat een van hul bekwaamste en waardevolste informante, ’n jong vrou, skielik dood is.

Enkele aanmerkings: Soos ek genoem het weet ek nie wie die vrou of man was nie of waar hierdie gebeure plaasgevind het nie.

Ek sou dit baie graag wou weet.

Aan die waarheid van hierdie tragiese gebeurtenis en die feit dat dit wel plaasgevind het, twyfel ek egter geensins nie.

Dit het my al die jare bygebly.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button