Ek sal dit op die ken vat

In plaas daarvan om ons vingertjies besig te hou deur mense op sosiale media te kritiseer en te beledig, kan ons nie eerder ons politieke brille afhaal en waardering toon vir dié wat bereid is om ten minste 'n poging aan te wend om 'n verskil te maak?

Die agteruitgang van Ermelo, die eertydse tuindorp van die oostelike Hoëveld, is vir ons, die inwoners, ‘n hartseer saak.
Dat feitlik elke plattelandse dorp in die land agteruitgang toon, versag nie juis die saak nie.

Slaggate, donker strate, riooloorstromings, oorgroeide sypaadjies, vullishope op oop erwe en rommel wat in die strate rondwaai, is iets waaroor ons almal kla, want daar word bitter min gedoen om die agteruitgang en algehele verval te stuit.

Volgens ons wat in die dorp woon, is dié toestande onaanvaarbaar en het lankal handuit geruk.

Die aard van my werk as ‘n joernalis neem my na alle uithoeke van die dorp en omliggende dele en ook dikwels na Wesselton en informele nedersettings waar toestande veel erger is.

Sommige van die teerstrate is haas onbegaanbaar vir voetgangers, wat nog vir voertuie en riool stroom vrylik om byna elke hoek en draai. Onwettige kragkoppelings is nie ‘n vreemde gesig nie en bouregulasies is ‘n heel vreemde konsep.

Dit is so dat baie van die probleme deur mense self veroorsaak of geskep is, maar die kern van die saak is dat die owerhede toegelaat het dat dinge handuit ruk.

Daar is glad nie ‘n vinger op die pols gehou nie en dit wil voorkom of ‘n punt bereik is waar ‘n ommekeer nie meer haalbaar is nie.

Maar dalk is ‘n omswaai in die toestande tog haalbaar, as ons in plaas daarvan om ons vingertjies besig te hou deur mense op sosiale media te kritiseer en te beledig, eerder ons politieke brille afhaal en waardering toon vir dié wat bereid is om ten minste ‘n poging aan te wend om ‘n verskil te maak.

Dit is wel ‘n ernorme taak wat voorlê en sommige mag van mening wees dat daar meer afgebyt is as wat gekou kan word, maar ten minste is die pogings sigbaar.

Kan ons nie maar ondersteuning bied sonder om ons politieke alliansies of voorkeure te laat inmeng nie?

Related Articles

Back to top button