Eendedam op Secunda weer familieparadys

“Die park met die hengelgeleenthede, die klimrame, die braai- en piekniekplekke en die miniatuur treintjie is eie aan Secunda en mens kry nie meer sulke mooi parke in dorpe en stede nie.”

SECUNDA – Die park rondom die Eendjiedam is nou weer die soort plek waarheen jy jou gesin wil neem, danksy Govan Mbeki Munisipaliteit en Sasol.

Inwoners was die afgelope ruk ongelukkig oor die lang gras, oorvol asblikke, rommel en vervalle infrastruktuur van dié eens pragtige park.

Een van die omgekrapte inwoners het die Ridge Times geskakel oor die verwaarloosde park, maar die opruimingswerk van die gebied het verlede Dinsdag begin en lyk die park nou stukke beter.

Die gras is gesny, die vullis is weggery, rommel is opgetel en die hele gebied se onderhoud is opgeknap.

Dieselfde inwoner was positief oor die veranderinge en kon sy dankbaarheid nie wegsteek nie.

“Die park met die hengelgeleenthede, die klimrame, die braai- en piekniekplekke en die miniatuur treintjie is eie aan Secunda en mens kry nie meer sulke mooi parke in dorpe en stede nie.”

Die miniatuur treintjie en treinspoor wat 1 000m lank is en om die Eendjiedam ry, is ’n geliefde plaaslike aantrekking.

“Die unieke stoomlokomotief en treintjie lok selfs toeriste uit die buiteland,” het mnr. Frans Pretorius, een van die vrywilligers wat verantwoordelik is vir dié treintjie, vertel.

Hy het verduidelik dat die Secunda Steamers dankbaar is vir hoe mooi die park en die speelgrond opgeruim is.

“Dit is lekker as dit so skoon en netjies is, want dan sal gesinne graag hierheen kom en ons geniet dit as die kinders op die treintjie ry.

“Ons is dankbaar vir Sasol se ondersteuning en aanhoudende onderhoud.”

Die stoomtreintjie ry elke Saterdag en Sondag en selfs op publieke vakansiedae,

“Ons ry ook soms op spesiale aanvraag en het opwindende planne vir die treintjie en treinspoor.”

Een van die planne behels die bou van ’n treintonnel oor ’n deel van die spoorlyn.

“Die tonnel sal S-vormig wees sodat jy nie van die een kant na die ander kant kan deursien nie, maar ons sal met plaaslike konstruksiemaatskappye en ondernemings moet praat vir borgskappe.”

Sasol het kommentaar op die opruimingsprojek gelewer.

“Sasol waardeer dit dat die gemeenskap ons bydrae tot die verbetering en ontwikkeling van die plaaslike omgewing, in samewerking met die munisipaliteit, raaksien.

“Ons nooi alle inwoners om dié park te geniet en hul eie te maak.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version