EntertainmentLifestyle

Robert se ster skitter helder in die nuwe jaar

Robert Gerber se debuut enkelsnit is nou beskikbaar op iTunes en dié jong onderwyser van Secunda sien uit na ’n blink toekoms in die musiekbedryf.

SECUNDA – Mnr. Robert Gerber (33) leef sy droom en sien uit na wat die toekoms vir hom inhou.

Met sy debuut enkelsnit, ‘jy sê jy hoor my”, nou op iTunes beskikbaar, lyk dit of 2017 beslis sy beste jaar nog gaan wees.

Mnr. Gerber, tans ’n onderwyser, woon reeds ses jaar op Secunda en het verduidelik waar sy passie vir musiek vandaan kom.

“Ek het in ’n musikale huis grootgeword.

“My pa kon sing en kitaar speel en my broer was in die koor en het dromme gespeel, so musiek is deel van my DNA.

“Ek het op laerskool aan verskeie sangkompetisies deelgeneem, maar my eintlike passie was altyd om voorsang in ons gemeente te doen.”

“Ek sing al sedert ek kan onthou, maar het eers van einde 2016 professioneel begin sing.”

Die pad wat hy moes loop om tot by dié draaipunt in sy loopbaan te kom, was interessant.

“My grootste leerskool was die voorsanggroepe waaraan ek behoort het en die kompetisies waaraan ek deelgeneem het.

“Ds. Jannie Pelser het ook ’n groot rol in my lewe gespeel en ek sal nooit sy woorde aan my vergeet nie: ‘Jy moet nooit ophou sing nie, jy sal nie spyt wees nie’.

“Dié woorde inspireer my vandag nog.”

Mnr. Gerber se droom vir die toekoms is om iets vir ander te beteken deur sy musiek.

“Ek wil graag ’n verskil in mense se lewens maak.

“As my musiek mense se harte raak en hulle op die een of ander manier nader aan God bring, dan soek ek niks meer nie… behalwe natuurlik ’n huisie by die see.”

Die opname van sy debuutsnit in Pretoria by New Groove Studios was beslis tot dusver die hoogtepunt van sy loopbaan.

“Om saam met mense te werk wat al diep spore in soveel kunstenaars se lewens getrap het, was beslis iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

Mnr. Gerber verstaan dat dit moeilik is vir jong kunstenaars om moed te hou in tye wanneer dit voel asof jy nêrens kom nie.

Hy voel ook sterk daaroor om sy eie liedjies te skryf omdat dit meer eg en persoonlik is.

Dit is wel nie altyd maklik om die nodige inspirasie te kry nie.

“Om ’n liedjie te skryf, is nie maklik nie en daar is nie ’n goue resep daarvoor nie.

“Dit is ’n kans wat jy neem.

“Vir my kom die inspirasie van binne af, hoe ek voel en wat om my gebeur.

“Baie van my liedjies word ook deur die Bybel geïnspireer.

“As dit voel of inspiraie ver weg is en liedjies wil nie kom nie en dit lyk of jy nêrens heen op pad is nie, het ek geleer om rustig te raak, met my vrou te praat en die Here te vertrou.”

Hoewel mnr. Gerber natuurlik mik vir een van die groot konserte, soos die Huisgenoot Skouspel, is sy grootste droom om eendag saam met ’n volle simfonie-orkes op te tree.

“Dit sal nou werklik ongelooflik wees.”

Hy sien uit na die deure wat sy debuutsnit vir hom kan oopmaak en hoop om in die nabye toekoms sy eie album op te neem en om nasionaal en selfs internasionaal te toer.

As hy ’n verhoog met enige kunstenaar kon deel, sal dit sonder enige twyfel Josh Groban of Andrea Bochelli wees.

Behalwe vir sy musiek, geniet mnr. Gerber dit om gehalte tyd saam met sy seun en vrou te bestee.

“Ek is mal daaroor om Playstation saam met my seun te speel.”

Vir meer inligting oor sy enkelsnit, sy toekomstige optredes en die musiekvideo wat hy besig is om op te neem, besoek sy Facebookblad of stuur ’n epos na robertgerber10@gmail.com.

Related Articles

Back to top button