Vanuit onder die bus

Die huidige toestand van sake by ons universiteite, kolleges en skole is kommerwekkend. Om die waarheid te sê, dis samoosa probleem.

Hoe moeilik dit ookal is, het ek myself belowe ek sal niks sê nie oor die Springbokke se verloorslag teen die All Blacks die afgelope naweek.

Ek kan egter nie help op te wonder nie wanneer die rugbybase en afrigters gaan ophou om te leer uit verloorwedstryde en vir ‘n slag iets uit wenwedstryde leer.

So gepraat van leer.

Die huidige toestand van sake by ons universiteite, kolleges en skole is kommerwekkend.

In die verlede het sake en verskille gewoonlik twee kante gehad. Deesdae is dit anders.

Om die waarheid te sê, dis samoosa probleem. Dit is nou soos die branderige lekkerny wat drie punte het.

Aan die een punt het ons die studente wat goedkoper (gratis ?) onderrig eis.

Op die tweede punt het ons die inrigtings wat (tereg?) sê hulle sukkel reeds om kwaliteitonderrig te verskaf met die min geld tot hul beskikking en dus na regering kyk vir hulp en leiding in die saak.

Op die derde punt van ons samoosa het ons die regering, oftewel die Departement Hoër Onderwys wat die probleem ontduik en teruggooi na dié einste mense en instansies wat hulp, raad en leiding by hulle gevra het.

Die bestuursrade van die tersiêre instansies moet nou glo self besluit of hulle klasgeld gaan verhoog of nie.

Alweer onder die bus ingegooi.

Intussen hou die land met vrees asem op om te sien of die brandstigting, vernietiging van kampusse en rampokkery gaan eskaleer en buite beheer raak.

Gaan ons uiteindelik die punt bereik waar daar niks oorbly nie van die einste inrigtings waaroor die studente vir verminderde (gratis) onderrig betoog?

Ek hoop regtig nie die samoosa kry nog ‘n punt by nie. Dit brand genoeg met sy drie punte.

Ek hoop ook dat dié wat in beheer is nie soos die Bokke en Proteas maak en wil staan en leer uit verloorslae nie.
Daar moet vir ‘n slag uit ‘n wenslag geleer word.

Maar dan moet daar seersekerlik eers gewen word, of hoe?

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version