SAVF se Ons Eie op Delmas betuig dank tydens Kersfunksie

“Ons Eie is ’n tehuis vir u geliefdes, vir u vriende wat nou in jare aanstap en sodoende afhanklik geraak het van versorging. Dankie dat u as donateurs vir hulle omgee.”

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) op Delmas se Ons Eie Ouetehuis het tydens ’n spesiale geleentheid dank teenoor hul ondersteuners en borge betuig.

SAVF-lede, Ons Eie-inwoners, personeel en donateurs het op Donderdag, 1 Desember by Ons Eie bymekaargekom vir ’n gesellige samesyn.

Die befaamde Delmas-musikant en sanger, Pieter Smit, het vir die vermaak agter die klavier gesorg.

Sharon Rabie, bestuurder van Ons Eie, het die donateurs bedank vir hul onbaatsugtige bydraes.

Volgens Rabie, beloop die mediese versorging, drie gebalanseerde etes per dag, skoon linne en klere, die elektrisiteitsrekening, salarisse en onvoorsiene instandhouding ’n astronomiese bedrag per maand.

“Sommige van ons inwoners ontvang slegs ’n SASSA-inkomste, tog beloop die versorging van elke inwoner sowat R10 500 per maand.”

Rabie het verder genoem dat hulle as Ons Eie nie onderskeid tref tussen arm en ryk nie.

“Liefde en omgee kom natuurlik gratis vir elkeen van ons inwoners.”

“Wanneer ons elke maand moet spook en spartel om die begroting te laat klop, is dit dan wanneer ons personeel op ons knieë gaan en ons Hemelse

Vader vra vir ’n uitweg,” het Rabie die besoekers meegedeel.

Rabie het verder genoem dat die staat nie meer doeke voorsien nie, die Lotto het ook hul ondersteuning aan Ons Eie gestaak.

“Tog word ons gebede verhoor en stuur God altyd ’n uitkoms in die vorm van engele op ons pad.”

Rabie het voortgegaan om hierdie ‘engele vanuit die gemeenskap’ te bedank vir die hulle mildelike bydraes in die vorm van doeke, kontant, medisyne, hoenders, eiers, vleis, blomme, sakgeld vir van die bejaarde inwoners, kruideniersware, water wat gratis voorsien word en baie meer.

Instansies vanuit die gemeenskap reël ook gereeld geldinsamelingsdae waarvan die inkomste vir noodsaaklike instandhouding, soos byvoorbeeld ’n stukkende waterpomp of stoof, gordyne of die vervanging van badkamerteëls aangewend word.

“Dankie ook aan ons boere wat sommer gereeld hier ’n vrag mielies of aartappels kom aflaai.”

“Ons Eie is ’n tehuis vir u geliefdes, vir u vriende wat nou in jare aanstap en sodoende afhanklik geraak het van versorging. Dankie dat u as donateurs vir hulle omgee,” het Rabie afgesluit.

Die hoofverpleër, suster Susan Biddlecombe en Rabie het ook aan die gaste ’n voorlegging gedoen oor die groot opwinding in die voorbereiding van ’n dementia-vleuel by Ons Eie wat vinnig vordering maak.

Die amptelike opening word reeds vir 24 Januarie 2023 beplan. (Lees meer hieroor in ’n volgende uitgawe van Streeknuus).

Die gesellige Kersfunksie is afgesluit met ’n geskenkie vir elke inwoner en almal het heerlik gesmul aan die smaaklike eet- en drinkgoed.

Exit mobile version