EntertainmentLifestyleStreeknuus

Pretoria Buitelug Ekspo en Fees beloof om die fees van die jaar te wees

Dis waar jy wil wees, dis by die Pretoria Fees.

Pretoria Buitelug Ekspo en Fees maak vir die eerste keer sy hekke oop op 22 April en hierdie fees staan reg om ten volle die mas op te neem.

Die sluit en verkoop van die Pretoria Skou se gronde los ’n leemte in Pretorianers se harte en beslis in die fees en skoubedryf, maar die fees belowe smaaklike kos,’n reuse snuffelmark en ’n magdom plaaslike produkte.

Daarmee saam kom ook die geleentheid om 40 000 proteas in lewende lywe te sien.

Die Buitelug Ekspo beloof proteas, protea-plante, tuinornamente, farings en ook hordes vetplante.

Die fees is propvol aktiwiteite en beslis een wat beloof van waarde en verskeidenheid.

Dit is familie-gefokus en dien elke smaak en voorkeur moontlik.

Vir die kinders, hou die fees ’n ongelooflike pretpark in met 12 verskillende ritte, wat vlieënde perdjies, ’n wurmtrein, swaaie, ’n groot glyplank en selfs bootjies op water insluit.

Die jongspan sal ook die kans hê om hulle gesiggies te laat verf, op die prettige springkastele te spring of ’n bietjies sandkuns te doen.

Die fees spog ook vanjaar met twee verhoë waar van Suid-Afrika se grootste name in die musiekbedryf hulle verskyning sal maak.

Die hoofverhoog spog met kunstenaars soos Jay, Lianie May, Appel, Bok van Blerk, Dirk van der Westhuizen, Refentse, Bernice West en Francois van Coke.

Magdom proteas is te sien by die fees. (Foto: Verskaf)

Op die tweede verhoog sal opkomende name in die bedryf die gehoor aan die kuier hou.

Die fees spog ook met ’n enorme biertuin, ’n wyntuin en ’n teetuin.

Die fees word in samewerking met MTN, Bidvest Protea Coin, Maroela Media, Pretoria FM en KykNET by Legends Adventure Farm aangebied.

Die Bidvest Protea Coin groep verseker dat besoekers met ’n geruste hart hulle voertuie in die parkeerterrein los en die stap na die feesterein opneem.

Vir die feesgangers wat nie kans sien om die padjie na die hooffeesterein in hulle stapskoene aan te durf nie is daar vervoergeleenthede soos ’n trekker-sleepwa, kindertreintjie of die MTN Party Bus.

Die ekspo is die perfekte geleentheid om alles te kry wat jy nodig het vir daardie selfdoen-tuinprojekte wat jy so lank al oor droom.

Die Penta Groep in samewerking met Doornkraal Proteas help ook om die ervaring so gerieflik moontlik te maak deur gekoopte tuinprodukte te help aanry na ’n punt in die parkeerterrein waar jy maklik jou blomme en tuinprodukte in jou voertuig kan laai.

“Die proses is so eenvoudig soos: kies jou plante, betaal jou plante en neem jou afskrif van die strokie, geniet die fees, tel na die fees jou plante en ornamente by die vriendelike personeel by die sentrale optelpunt in die hoof-parkeerterrein op en geniet jou tuinmaakprojek,” het organiseerder, Liza Welsh vertel.

Vir die besoekers wat nie groen vingers het nie, hou die Pretoria Fees steeds hordes ander aanloklikhede in.

Die Buitelug Ekspo verwelkom die Yamaha Linex Lynwood-groep en spog met ’n ongelooflike verskeidenheid bote en jetskis en die perfekte geleentheid om te kom kyk na die nuutste produkte op die mark.

Die groep stal visopspoortoerusting uit en besoekers sal ook die kans hê om voet aan boord van die nuutste bote te sit.

Sanger Dirk van der Westhuizen vermaak die gehoor op ’n vorige skou.(Foto: Verskaf)

“As jy eerder jou voete op die grond wil hou, het die groep ook ’n paar Indiese motorfietse op uitstalling,” het Welsh genoem.

Op die 4×4-baan kan feesgangers hulle eie 4×4 inskryf vir ’n kompetisie waar die manne (en vroue) wys waarvan hulle voertuig gemaak is.

“Hoewel jy nie saam in ‘n 4×4 kan klim nie, sal jy by die aanloopbaan geleenthede kan kry om saam met Legends Sky te vlieg of saam met die manne van Nissan GTR in hulle karre te jaag,” het Welsh vertel.

Pretoria Caravans & Outdoor spog met woonwaens op uitstalling.

Feesgangers kan die Stealth Overlander 4×4-woonwa beleef – dié woonwa is die nuutste op die mark wat probleme met water en vog uitskakel.

“Kom ervaar eerstehands waarom die EdgeOut teardrop-sleepwa besig is om die industrie oor te neem,” het Welsh laat hoor.

Die Pretoria Buitelug Ekspo en Fees bring ook interesante opvoedkundige geleenthede.

Die slang-, spinnekop- en skerpioenuitstalling beloof om jou ’n paar interessante feite oor hierdie fasinerende diere te leer en daar sal ook ’n swart mamba-demonstrasie wees.

Die pretpark vir die jongspan sorg vir groot opwinding. (Foto: Verskaf)

Vryf skouers met die miniatuurperdjies van Meet the Mmini’s of spring op die rug van ’n kameel vir ’n rit.

Die Orpington Club SA stal hule top skouhoenders uit en bied ook ’n kans vir die publiek om meer inligting oor hul passie te verkry.

“Besoek dié stalletjie by die fees en skryf sommer in vir ’n kompetisie vir die klubhardloop waar jy ’n braai-skaap kan wen,” het Welsh bygevoeg.

Die fees is aktiwiteit-belaai en daarby ook beskostigbaar vir die hele gesin.

Besoek die webtuiste vir meer inligting oor wat die fees inhou en koop sommer vooraf jou kaartjies aanlyn.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button