Streeknuus

Die Bapsfontein Hotel van toeka tot nou

Streng Aanddrag en vol pakke alleen. Geen kinders en denim-klere sal toegelaat word nie. Tussen die vroeë 1950’s en 1994 was die naam Bapsfontein op die lippe van almal wat van countrymusiek hou.

Volgens oorlewering was die Bapsfontein Hotel ’n gewilde kuierplek waar mense jare gelede in deftige rokke en pakke gekom het om te dans.

Die reëls by die ingang van die hotel het duidelik gestipuleer: Streng Aanddrag en vol pakke alleen. Geen kinders en denim-klere sal toegelaat word nie.

Tussen die vroeë 1950’s en 1994 was die naam Bapsfontein op die lippe van almal wat van countrymusiek hou.

In 1994 het hierdie hotel egter gesluit en was dit op daardie stadium beskou as ’n hartseer dag in die era van eg-Suid-Afrikaanse dans op die maat van die musiek van sterre soos Lance James, Barbara Ray, Bobby Angel, Tommie Dell, Min Shaw en selfs Gene Rockwell.

Die aanvanklike eienaar van die hotel was Francois Hattingh, ’n bouer van beroep.

Francois het die Bapsfontein Hotel in 1952 aangekoop en vol drome begin om die hotel te bou.

Volgens inligting het Hattingh in 1955 die eerste danssaal geopen en daar het die wonderlike geskiedenis begin. Mense van oraloor het daarheen gevlok om te gaan dans.

Hierna was daar ook ’n vakansieoord met braai-en piekniekgeriewe, ’n swembad en verskeie ander vermaaklikheidsaktiwiteite by die gewilde hotel aangebring.

Die geskiedenis wil dit ook hê dat die destydse gewilde LM Radio se Talent Parade direk vanaf Bapsfontein uitgesaai was.

Dit sou tot soveel as 3000 mense lok en aan die einde van die Talent Kompetisie het ’n baie jong Min Shaw tot die vermaaklikheid wêreld toegetree.

In 1962 was dit tyd vir verdere uitbreiding en kon die danssaal 750 paartjies akkommodeer, die grootste dansvloer in die Suidelike Halfrond.

In 1982 het Hattingh aan ene Manuel da Cal verkoop en steeds was dit ‘n baie bekende plek waar ‘country’ musiek en lekker dans hoogty gevier het.

“Ek was ’n verteenwoordiger van ’n groot kombuiskasvervaardiger in die vroeë tagtigs,” het ’n Delmas-inwoner vertel.

“Ons vertoonlokaal was in Benoni. Woensdae was ‘rep-dag’ en al wat jy by jou moes hê was ’n visitekaartjie. Jy kon dan ’n gratis ‘pub-lunch’ geniet en onnodig om te sê, elke Woensdag het elke verteenwoordiger tussen 12 en t14;00 êrens ’n afspraak gehad.”

Die hotel is in 1994 insolvent verklaar en was daarna deur plakkers beset.

Hierdie nuus het baie oud-aanhangers en besoekers aan die hotel baie boos gelaat.

Volgens nuusberigte was die hotel in 2007 vir R150 000 op ’n veiling verkoop.

Die onwettige plakkers was in 2011, weens die ontstaan van sinkgate, vir hulle eie veiligheid in Putfontein in Benoni hervestig.

Die hotel het weer herleef onder nuwe eienaarskap en bied te midde van die Covid-19 pandemie steeds vermaak aan besoekers.

Bron: Bapsfontein Hotel Facebook-blad

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button