Boogskut van die Bronkhorstspruit-omgewing droom groot

“Boogskut met fokus, passie in sy hande en ’n oog wat kan raak skiet.”

Johan Joubert, ’n plaaslike boogskut, neem die afgelope 14 jaar aan dié sport deel en het vertel dat sy liefde vir jag van kindsbeen af in hom gevestig is.

“Ek het met wapens en jag groot geword. Ek het nog altyd op een of ander vlak ’n vuurwapen of boogskiet geniet.”

Dié sportsman het al verskeie brons, silwer en goue medaljes op plaaslike kompetisies verower.

Op die ouderdom van 29 het hy eers kompeterend begin deelneem en het in sy jonger dae slegs informeel geskiet.

Boogskiet is vir hom meer as net ’n sport.

“Dit laat my ontspan. Ek maak my kop skoon. Dit is net ek en my boog.”

Die hele Joubert-gesin skiet met Bowtech Compound-jagboë en neem selfs aan 3D-boogskietkompetisies deel.

Joubert se aangetrokenheid tot die sport het grootendeels te make met die uitkoms wat van elke individu se persoonlike konsentrasie afhang.

“Jy is die enigste een wat ’n verskil kan maak, jy is totaal in beheer van die uitkoms.”

Boogskiet is nie vir hom net ’n passie of stokperdjie nie.

“Vir my is die boogskiet ’n leefstyl wat nie ingeperk of slegs gedefineer kan word nie. Dit is meer as net wat met die oog gesien kan word. Dit is ’n emosie.”

Joubert wil nog graag sy nasionale kleure verower.

“Ek kompeteer teen myself. Solank ek verbeter. Solank is ek gelukkig.”

’n Hoogtepunt vir hom was toe sy vrou en twee dogters elkeen podiumplekke behaal het.

“Dit is ’n gesinsport en ons kan saam daarin groei.”

Voorbereiding vir groot kompetisies word in een woord opgesom.

“Oefen. Oefen en oefen.

“Die kompetisies toets jou fisiese vaardigheid en jou verstand sowel as jou vermoë. Dit is baie sielkundig.”

Een les wat dié sport Joubert van hmself geleer het, is dat ’n mens nie in jouself moet twyfel nie.

“As jy dink jy kan of jy kan nie, dan is jy waarskynlik reg. Jy bepaal self die uitkoms.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version