ANC is steeds sterkste in VKLM

Daar word gehoop vir meer betrokkenheid van die gemeenskap soos die bywoning van raad- en gemeenskapsvergaderings. Dit sou bydra tot ’n beter begrip van die werking van die munisipaliteit en die rol wat opposisie partye binne die raad speel.

Die plaaslike regeringsverkiesing is nou iets van die verlede.

Vir sommige inwoners van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) op Delmas was dit ’n groot oorwinning, vir ander ’n groot teleurstelling.

Vóór die verkiesing op Maandag, 1 November, was daar baie beloftes gemaak en die inwoners wil nou hoor wat gaan verander.

Met infrastruktuur wat daagliks op eie bodem ineenstort, slaggate, elektrisiteitsonderbrekings, rioolstorting in strate en watertekorte wat steeds die inwoners van Eloff en Sundra teister, word daar gehoop vir daadwerklike verandering.

Die uitslae na die pas-afgelope verkiesing sien as volg daaruit: Die African National Congress (ANC) het daarin geslaag om 52.31% die stemme op hom te beteken, die nuut gestigte African

Voice Progressive Party (AVVP), 18.53%, die Demokratiese Alliansie (DA), 15.99%, die Economic Freedom Fighters (EFF), 6.22% en die Vryheidsfront Plus (VF+), 4.25%. (Uitslae soos vanaf die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ontvang).

“Daar is nege verkiesingswyke binne VKLM. Binne elke wyk is daar verskeie stempunte en alle stemme word getel per politieke party en die hoogste aantal stemme wen die wyk,” het me. Diane Bath, DA-raadslid, Streeknuus meegedeel.

Volgens me. Bath is daar 17 setels op die munisipale raad.

Teen druktyd was die setels nog nie finaal toegeken nie, maar die ANC sou wel agt uit die 17 setels inpalm omdat hulle in agt wyke die meerderheid stemme behaal het.

Die DA het een besliste oorwinning in wyk 8 behaal, met twee proporsionele setels.

Proporsionele stemme sal binnekort bepaal wie die oorblywende setels ingepalm het.

Die DA is baie gelukkig met die uitslae, selfs al was die kiesersopkoms baie laag.

“Ons bedank elke ondersteuner wat hul stem laat tel het en hul vertroue in die DA gestel het. Ons sal voortgaan met die harde werk saam met ons mense op grondvlak.

“Die sleutel is verbeterde dienslewering, kommunikasie, deursigtigheid en ’n munisipaliteit vry van korrupsie,” het me. Bath laat hoor.

“Ons hoop egter vir meer betrokkenheid van die gemeenskap soos die bywoning van raad- en gemeenskapsvergaderings. Dit sou bydra tot ’n beter begrip van die werking van die munisipaliteit en die rol wat opposisie-partye binne die raad speel.”

Mnr. Pieter Senekal van die VF+ kon daarin slaag om wyk 7 in Sundra te verower.

Mnr. Senekal het die VF+ se kiesers bedank.

“Baie dankie vir die gelukwense wat ek ontvang het met die VF+ se verkiesing tot die raad. Ons inwoners het nou ’n raadslid wat gaan opstaan om jul belange te beskerm.

“Verskeie inwoners is van mening dat die verkiesingsuitslag die noodsaak bevestig het vir burgerlike organisasies en gemeenskappe om saam te staan ten einde alternatiewe oplossings vir die uitdagings met ekonomiese agteruitgang, toename in misdaad en die verskaffing van infrastruktuur te vind,” het mnr. Senekal gesê.

Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus oor hoe die VKLM-raad uiteindelik daar sal uitsien en die daaropvolgende beloftes van die onderskeie partye.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version