Streeknuus

Rayton se mesmaker deel sy passie

“Dit is daardie gevoel van jy gooi ’n paar goedjie bymekaar en dan kry jy ’n eindproduk waarvoor baie mense lief is.”

Mnr. Allen Hickers van Rayton se liefde vir mesmaak het van kindsbeen af ontstaan, maar werklik eers vir hom ’n roeping geword met die afsterwe van sy broer.

Hy het die mesmaakproses meer as ’n genesing en eerbieding aanskou.

“My broer het vir my ’n knipmes gegee wat nou nog in sy boksie staan en toe het ek besluit ek gaan messe maak.”

Mnr. Hickers het sy stokperdjie wat soos ’n vuur binne hom gebrand het aan die verlies gekoppel en daaruit is emosie en sentiment, wat in sy werk gesien kan word, gebore.

“Van niks af nie. Uit ’n rou stuk staal onstaan daar ’n produk wat byna van die aarde is. Daar is diereprodukte soos die leer waarvan ek gebruik maak en van die handvatsels word van been gemaak.”

Mnr. Allen Hickers in sy werkswinkel.

Hy beskryf die genot om messe te ontwerp as ’n pasgebore baba.

“Eweskielik is daardie lewe daar en dit is hoe ’n mes vir my is. Dit was eers niks en nou is dit iets wat mens kan gebruik.”

Mnr. Hickers maak ’n verskeidenheid messe omdat hy glo mesmaak gaan oor seisoene en hy floreer deur van verskillende mediums te wissel.

“Jagmesse vir die jagseisoen, deur die jaar is kombuismesse ideaal en Kerstyd stel mense baie belang in biltongmesse vir oupa of vir pappa.”

Op 10-jarige ouderdom het mnr. Hickers teen sy pa se wil altyd in die stoor ingevaar.

“Ek het die baby grinder gevat en sommer ’n stuk staal gevat en die spitstaal uitgesny.”

Mnr. Allen Hickers is besig met die ontwerpingsproses.

Hy het in 2016 besluit om voltyds sy passie uit te leef en die liefde daarvoor het in ’n leefstyl ontaard.

Hy neem soms net ’n dag om ’n mes te voltooi, maar gewoontlik bestee mnr. Hickers sowat drie dae op ’n mes.

“Ek hou daarvan om die metaal eers te destress voor dat jy daarop begin werk.”

Mnr. Hickers glo daarin om die staal eers sag te maak en dan die staal langer te skuur op die belde wat dan opgevolg word met die normalisasieproses.

“Dit is om al die molekules wat wild geraak het daar binne dieselfde te kry sodat die staal nie buig wanneer dit verhard word nie,” het mnr. Hickers verduidelik.

Die lem word verhard en twee keer getemper (uitgegloei) om dit daarna bietjie meer buigbaar te maak sodat die mes nie bros is nie.

Daarna is die proses alles in jou hande.

Mmnr. Allen Hickers besig met die voorbereidingsproses.

“Dit is net handskuurwerk wat dan die produk afrond en die meeste emosie tot die produk toevoeg. My hande is altyd rou, maar dit bepaal die produk.”

Mnr. Hickers het ook vertel dat die musiek wat die agtergrond-atmosfeer skep ook op sy gemoed inwerk wanneer hy ’n mes benader.

“Die musiek wat ek luister sê vir my hoe die mes gaan lyk. Emosionele en ernstige musiek is gewoontlik waarop ek die lekkerste meegevoer word en dit is asof jou emosies se reaksie teenoor die musiek dan uitgebeeld word in die eindproduk.”

Die diepte van die musiek bepaal ook of die mes se oppervlakte glad soos ’n spiëel of grof sal wees.

“Soms is daar ’n kombinasie van die twee juis omdat die musiek soos my kommunikasiekanaal is waarmee ek uiting kan gee aan my emosies deur dit op die staal uit te oefen.”

Sy musiek verwoord hoe hy binnekant voel en soms deur skep gee hy uiting aan dit waarmee hy aanklank vind.

Mnr. Hickers staan dikwels terug en kyk soms maande later na ’n foto van sy messe en dan weet hy presies hoe hy op daardie oomblik en tydstip gevoel het.

Mnr. Allen Hickers met een van sy gunsteling-messe.

Messe is vir hom soos emosies wat neergelê is en hy verbind elke mes aan ’n herinnering saam met sy broer.

Mesmaak kom vir hom van ’n ander plek af.

“Dit het vir my ’n dieper emosionele betekenis op ’n situasie wat jare gelede plaasgevind het en van my ’n nuwe mens kom maak het.”

Mnr. Hickers het vertel selfs al is hy 80 sal hy steeds maak,al trek sy vingers ook krom.

“Besig met dit sal ek bly. Dit is deel van my.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button