Streeknuus

VKLM-inwoners trek hul kruisies in die hoop vir ’n beter toekoms

Ek voel baie positief oor die pas afgelope verkiesing. Dit is asof mense vanuit alle kultuurgroepe bymekaar gestaan het, elkeen wil minder korrupsie sien en ’n beter toekoms vir élke inwoner van Delmas, ongeag ras of inkomstegroep.

Gewapen met ’n masker, ’n pen en identiteitsdokument het Delmas se kiesers na die stembusse gestroom.

Ná verskeie hofsake waarin bepaal moes word of die munisipale verkiesing wel vanjaar sou plaasvind, was daar uiteindelik besluit dat Suid-Afrikaners op Maandag, 1 November hul kruisies kon gaan trek.

Munisipale verkiesings word elke vyf jaar gehou en op Maandag 1 November was dit die sesde munisipale verkiesing in Suid-Afrika sedert 1994.

Die Staatspresident, mnr. Cyril Ramaphosa, het ook dié dag ’n openbare vakansiedag gemaak ten einde meer kiesers in staat te stel om te gaan stem.

Ook in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se gebied het hierdie dag met groot verwagting aangebreek.

Teen druktyd was die meeste kiesers dit eens.

“Daar was baie min probleme by die verskillende stemlokale in VKLM.”

“Ek was om 07:00 by Malita Aftreeoord en was die eerste om my kruisies daar te trek. Dit was flink en vinnig,” het mnr. Trevor Williamson gesê.

“In en uit, binne vyf minute,” het ’n ander gesê.

By van die ander lokale was die rye egter lank en die son warm, maar kiesers was dit eens dat die lang staan die moeite werd was.

“Ek voel baie positief oor die pas afgelope verkiesing. Dit is asof mense vanuit alle kultuurgroepe bymekaar gestaan het, elkeen wil minder korrupsie sien en ’n beter toekoms vir élke inwoner van ons dorp, ongeag ras of inkomstegroep, ” het nog ’n kieser laat weet.

Vir elke Delmasser wat sy of haar kruisie gaan trek het, ’n tyd van afwagting en ’n tyd van nuwe hoop vir ’n nuwe begin vir VKLM.

Volgens alle aanduidings sou die finale uitslae van die munisipale verkiesing op Donderdag, 4 November bekend wees.

Lees meer oor die 2021 se munisipale verkiesingsuitslag en die impak wat dit op VKLM kan hê in ’n volgende uitgawe van Streeknuus.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button