Streeknuus

Delmas Herleef is weer op dreef om dorp te help

Die volgende fase van beplanning behels die verf van stoptekens op paaie en die aanbring van stoptekens by besige en gevaarlike kruisings in die middedorp.

Die pas afgelope strenger aangepaste inperking te midde die Covid-19-pandemie het daartoe gelei dat die groep vrywilligers, bekend as Delmas Herleef, tydelik hulle bedrywighedeop ys moes plaas.

Soos berig in vorige uitgawes van Streeknuus, het vrywilligers vanuit die gemeenskap onder leiding van dr. Martin van Rensburg, predikant by die Hervormde Kerk op Delmas, ’n besluit geneem dat daar iets omtrent die agteruitgang van Delmas gedoen moes word.

Die woord is by die daad gevoeg en sommer gou het die groep gegroei.

Daar was aanvanlik begin deur vuilgoed op te tel en parke skoon te maak, maar daar was gou besef dat die herstel van Delmas se beeld na sy vorige glorie en die onderhoud daarvan, meer as net grassny en vullis-optel sou behels en die bedrywighede het uitgebrei. Kort voor lank het besighede en boere vanuit die gemeenskap begin om parke skoon te maak en hand by te sit.

Vir elke projek wat Delmas Herleef aangepak het, was daar vir skenkings en vrywillige hande vanuit die gemeenskap gevra en mildelike bydraes het ingestroom.

Randstene in Sarel Cilliersstraat is geverf en slaggate is gevul.

Mnr. Gert en me. Sjuna Davis het dan ook begin om weer straatname in Delmas aan te bring, ’n enorme, maar baie welkome gebaar en dié projek vorder fluks.

Die Delmas Begraafplaas is ook weer ’n toeganklike plek gemaak waar begrafnisondernemers hul taak kan uitvoer en mense hul geliefdes se laaste rusplekke kan besoek. Die begraafplaas was voorheen heeltemal vervalle en grafte was byna toegegroei met lang gras en onkruid.

Die ystervrou, me. Madel Fourie, wat bekend is vir haar groen vingers, passie en liefde vir mooi tuine, het die plaaslike munisipaliteit genader vir hulp en sommer gou was die hoofstraat se beddings op die middelman, die tuin by die kruising van Van der Walt- en Sarel Cilliersstraat, sowel as die ingang na Delmas vanaf die R50 in Samurlweg opgekikker met pragtige aalwyne.

Volgens dr. Van Rensburg, was daar ook weer op 26 Julie ’n baie suksesvolle vergadering met belanghebbendes by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) gehou en brei die samerwerkingsooreenkoms met positiewe resultate uit.

So op Saterdag, 31 Julie, kon Delmas Herleef se werksaamhede weer ’n aanvang neem en het ’n groep inwoners, gewapen met handskoene, harke, besems en vuilgoedsakke weer begin om
vuilgoed op te tel in die omgewing van Sarel Cilliersstraat. ’n Ondankbare taak, maar vir Delmas Herleef is geen taak te klein of te groot nie.

“Dit was die einde van die maand en almal koop, eet en gooi neer. Dit was ’n uitdaging, maar tou opgooi, nooit. Een van die besighede het kom dankie sê en genoem dat hulle voortaan self om hul perseel sal opruim. As elke onderneming dit doen, gaan dit baie help,” het me. Fourie gesê.

Die volgende fase van beplanning behels tans die verf van stoptekens op paaie en die aanbring van stoptekens by besige en gevaarlike kruisings in die middedorp.

Hierdie projek neem fyn beplanning omdat die wetlike aspekte rondom die aanbring van padtekens in ag geneem moet word.

Vir hierdie reuse projek is die kundige advies en hulp van mnr. Frans Bolton, brandweerhoof van VKLM, ingeroep.

Dr Van Rensburg nooi dan ook enige lid van die gemeenskap of sakelui wat sou belangstel om ’n bydrae te lewer tot die Delmas Herleef-projek om hom te skakel by 083 633 7335.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button