Local newsLocal sportSport

Sasol Grip & Rip Rugbyklub loop oor Bethal

Die eerste span klop die Buffels met 94–0

Sasol Grip & Rip Rugbyklub het Saterdag die Sasol Onspanningsklub se veld met die Bethal Buffels gevee.

Die eerste span het die besoekers van hul buurdorp met 94-0 verslaan.

Die Bethallers het verlede jaar die Mpumalanga B-liga gewen en na die Premiersliga opgeskuif. Hoewel hulle met daad en moed gespeel het, was dit van die staanspoor af duidelik dat Sasol die oorhand het en soos ’n geoliede masjien saamgewerk het.

As losskakel Dirk Coetzer, se skopvoet nie so gelol het nie, sou die puntestand heel moontlik trippelsyfers getoon het.


Steyn van der Heever vlieg deur die lug om die tweede drie van die wedstryd vir Sasol Grip & Rip te druk. Foto: Arisja Misselhorn

Die bal was skaars afgeskop om die spel te begin toe Sasol se binnesenter, Theuns Kruger, sy span se eerste onverdoelde drie gedruk het.

Binne die eerste 10 minute het Steyn van der Heever, oopkantflank, en kaptein Anwar Fillis albei in dieselfde hoekie gaan druk.

Brandon Potgieter, toekantflank, en slot Werno Smit het hierna die doellyn besoek, en binne die eerste 20 minute die puntetelling na 27-0 opgestoot.

Regtervleuel Johan Kruger het vir nog ‘n drie gesorg voordat die fluitjie rustyd aangekondig het. Die telling was toe 32-0 in Sasol se guns.


Steyn van der Heever nael vir die doellyn met Bethal se Legend Makoena kort op sy hakke.

Sasol het met mening teruggekeer vir die tweede helfde om die drieë een na die ander in te ryg.

Van der Heever het ingeklim met twee drieë kort op mekaar, gevolg deur Fillis wat die bal tussen die pale gaan plant het.

Hierna het slot Dwayne Lake onder die pale deur gestoot.

Heelagter Devon van Eeden het die bal twee keer gaan druk waarna Steven Mofokeng op nommer 20, ook twee drieë gelewer het.


Werno Smit druk ‘n drie vir Sasol.

Plaasvervangers Pieter van Niekerk en Ronnie Tshabalala het ook die punte laat inrol, terwyl Rudolf Pretorius die drieë verdoel het.

Vasskopstut Andries Schutte, wat telkens die Bethallers afgegooi het en gesorg het dat sy span se spoedvrate die bal kry, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Die Bethal Buffels se tweede span was nie veel beter daaraan af nie. Sasol het hulle met 65-10 geklop. Sasol Grip & Rip draf op 8 Julie op Middelburg uit en kom op 15 Julie teen Witbank op Secunda te staan.

Die klub nooi toeskouers en sakelui om ‘n losie te huur waar hulle 10 mense langs die veld kan onthaal en goeie rugby kan aanskou.


Bethal se tweede span werk saam om die reuse Andre Schwab plat te trek. Foto: Johan Bezuidenhout

Skakel vir Zelmi Roarty by 071 388 0481 vir meer inligting.

Die Bethal Buffels se afrigter Jannie Burger het die kans om in ’n hoër liga deel te neem, as kompeterend en ’n leerkurwe beskryf.

“Ons het wel geweet dat dit nie maklik gaan wees nie, maar die spelers byt vas.”

Die Buffels se volgende wedstryd word op hul tuisveld teen Newcastle beslis.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button