Local sportSport

Sasol Digi Mag tem Witbank in ’n tuiswedstryd op Secunda

Devan van Eeden en Llewellyn van der Linde is as die Spelers van die Wedstryd aangewys.

Sasol Digi Mag Rugbyklub se eerstespan het ‘n sterk Witbank-span getem in ‘n tuiswedstryd teen Witbank Rugbyklub op 28 Mei.

Hoewel daar ‘n paar benoude oomblike was, het Sasol tog daarin geslaag om die besoekers met 32–15 te klop.

Sasol het van die afskop die voortou geneem en binne minute het hul linkervleuel, Mark Jacobs die eerste drie in die hoekie geplant.

Heelagter Marinus van der Merwe het nie in die uiters moeilike taak geslaag om die bal vanuit die skerp hoek te verdoel nie.

Nie lank hierna nie het linkerflank Steyn van den Heever die taak vir Van der Merwe heelwat vermaklik deur naby die besoekers se kwartlyn die bal te ontvang en deur die verdediging te breek om ‘n drie langs die pale te plant.

Van der Merwe het dié drie verdoel en die telbord na 12–0 opgestoot.

‘n Fout deur Sasol het later in die eerste helfte vir punte teen hulle gesorg toe Witbank se losskakel, Christo Nelson, ‘n strafdoel deur die pale gestuur het.

Sasol het kort hierna met ‘n strafdoel van hul eie geantwoord om die puntestand op 15–3 te staan te bring.

Witbank se linkervleuel, Armand Botha, het egter teruggekap deur Witbank se eerste drie te druk.

Ryan Cloete, Witbank se heelagter, het die drie verdoel en die gaping tot 15–10 verklein.

Sasol was hierna op die aanval met hul kaptein, Anwar Fillis wat die voortou geneem het. Hy het verskeie Witbankers omseil voordat hy kort voor die pale platgetrek is.

Fillis het egter die bal betyds uitgegee en toe die bal weer in Mark Jacobs se hande beland het, het hy gesorg dat die eerste helfte met ‘n skouspel afgesluit is.

Jacobs het ‘n drie naby die hoekvlag gedruk. Die drie was nie verdoel nie en die halftydtelling was 20–10 in Sasol se guns.

Albei spanne het met nuwe ywer vir die tweede helfte opgedraf.

Witbank het beslis hul aanval opgeskerp en Sasol moes bontstaan om te keer dat die besoekers nie deur hul verdediging breek nie. Heelwat van die tweede helfte se spel het in Sasol se half- en kwartgebied afgespeel.

Van der Merwe het sy kans benut en die bal wat pas uit ‘n lynstaan op die halflyn gekom het, gegryp en vir sy teenstanders weggenael om ‘n drie gemaklik agter Witbank se doellyn te druk.

Hy het self hierdie drie verdoel om die telbord na 27–10 te verhang.

Sasol se Jacobs is net hierna grond toe met ‘n ernstige kniebesering. Heelwat tyd het verloop terwyl die paramedici onder die wakende oog van die span se fisioterapeut, Lumé Brits, Jacobs se been gespalk het en hy per ambulans hospitaal toe geneem is.

Dié voorval het ‘n duidelike demper op Sasol se spel geplaas – iets wat die Witbankers uitgebuit het totdat Sasol se kaptein Anwar Fillis, wat ook die regtersenter is, nuwe asem in sy span geblaas het deur met volle vaart langs die kantlyn voor die pawiljoen te nael en op Witbank se doellyn af te pyl vir ‘n laaste drie. Selfs die vlagmanne het agterna opgemerk hoe blitsig Fillis is.

Dié drie kon nie verdoel word nie en die puntestand was toe 32–10.

Witbank se Tami Zulu het vir die laaste, en sekerlik skouspelagtigste drie van die wedstryd gesorg. Hy het die bal in Witbank se kwartgebied opgeraap en oopgelê tot by Sasol se doellyn met niemand wat hom kon keer nie.

Dié drie is nie verdoel nie en die eindtelling was 32–15 in Sasol Digi Mag se guns.

Devan van Eeden en Llewellyn van der Linde is as die Spelers van die Wedstryd aangewys.

Sasol Digi Mag en Witbank se tweedespanne het gelykop 10 elk gespeel.

Die klub speel dié Saterdag in ‘n wegwedstryd teen Middelburg en die kom weer op 11 Junie in ‘n tuiswedstryd te staan teen Newcastle.

Kyk na galery van fotos

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button