Local sportSport

Secunda Speedsters se atlete presteer by SAs

Afrigter Janine Swanepoel is trots op haar atlete.

Matsidiso Makgato, ’n atleet van die Speedsters Atletiekgroep, het behoorlik skoonskip gemaak by twee Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe wat in Maart en April plaasgevind het.

Dié belowende jong atleet het met ’n goue medalje weggestap in die 90m-hekkies by die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskap in Germiston, tweede geëindig in die 100m-naellope en twee derde plekke in twee aflos-items behaal.

Haar afrigter, Janine Swanepoel, het gesê Matsidiso, of Tsidi soos sy onder haar vriende bekendstaan, het eintlik gelyk geëindig met die meisie wat gewen het, maar omdat die ander atleet se bors eerste oor die wenstreep was, was sy eerste hoewel hulle tye dieselfde is.

Makgato het by die Atletiek Suid-Afrika Kampioenskap, wat in Maart in Potchefstroom plaasgevind het, ’n silwer medalje in verspring ingepalm.

Dit terwyl sy ’n besering opgedoen het by die eerste atletiekkampioenskap wat ’n week vroeër plaasgevind het.

Tsidi Makgato en haar afrigter Janine Swanepoel by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap waar Tsidi ’n eerste plek ingepalm het. (Foto: Verskaf)

Makgato het ook haar Suid-Afrikaanse kleure vir atletiek verwerf en is vir die Cossasa (South Africa’s Confederation of School Sport Associations of Southern Africa) -atletiekspan, wat eintlik die Suid-Afrikaanse atletiekspan is, gekies wat moontlik in Mei aan ’n byeenkoms gaan deelneem.

Die ander atlete van die Speedsters Atletiekgroep wat presteer het, is Tiaan de la Rey en José van Rooi.

De la Rey het agtste geëindig in die 110m-hekkies vir S0/16 by die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskap.

Swanepoel het gesê dit is baie goed vir iemand wat vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het.

De la Rey is al een keer vantevore gekies om aan dié kampioenskap deel te neem, maar dit is toe gekanselleer weens die Covid-19-pandemie en die inperking.

Van Rooi het vierde geëindig in hoogspring vir S0/12 by die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskap in Potchefstroom en uitgeval in die uitdunne vir die 75m-hekkies en die 150m-hekkies.

Swanepoel het gesê sy is baie trots op al haar atlete wat so goed gevaar het.

José van Rooi is een van die Speedsters Atletiekgroep se jonger atlete wat presteer het. (Foto: Verskaf)

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button