Jonges maak litte op Secunda vir Pumas los

Nkangala het die wedstryd met 50-14 gewen.

Gert Sibande-streek se 0/20-spelers moes die knie vir Nkangala-streek buig toe dié spanne mekaar Vrydagaand, 18 Februarie, op die rugbyveld van die Sasol Ontspanningsklub op Secunda gepak het.

Nkangala het die wedstryd met 50-14 gewen.

Hoewel Gert Sibande met die opdraf belowend gelyk het, het dit mettertyd duideliker geword dat Nkangala se manne net eenvoudig die spanwerk makliker onder die knie gekry het.

Albei spanne het bittermin oefentyd vooraf gehad.

Spelers vanuit die streek – van Secunda tot Piet Retief – is deel van die Gert Sibande-streekspan en die groot afstande tussen die dorpe het oefensessies belemmer, met van die spelers wat dié aand vir die eerste keer ontmoet het.

Nietemin, het individuele spelers en dié wat mekaar in klubverband leer ken het, hul stempels afgedruk.

Nkangala se agsteman, Neo Mavundla, het vir die eerste drie van die wedstryd gesorg toe sy span tyd in Gert Sibande se kwart- en doelgebied bestee het.

Mavundla het sy kans benut toe Gert Sibande op sy eie doellyn fouteer het en die bal na Mavundla aangegee is.

Dié drie is deur skrumskakel Siyabonga Magagula verdoel.

Gert Sibande het hierop geantwoord met ’n doel van sy eie.

Goeie spanwerk tussen die agterspelers JJ Fourie (regtervleuel), Michael Erasmus (losskakel) en Tumelo Moloi (buitesenter) het die bal in Nkosi Sithole (heelagter) se hande laat beland.

Sithole het oopgelê doellyn toe om ’n drie met gemak te gaan druk.

Losskakel Erasmus het die drie verdoel.

Nkangala was egter nie hiervoor te vinde nie en Mavundla het weer vir ’n drie gesorg. Die drie is nie verdoel nie.

Net voor die halftydfluitjie het Nkangala se skrumskakel Magagula ’n drie gedruk wat hy self verdoel het.

Die rustydtelling was 19-7 in Nkangala se guns.

Nkangala het in die tweede helfde sy posissie verstewig deur nog drieë in te ryg en om sy verdediging selfs meer op te skerp.

Die heelagter, Siyabulela Jabuza, het binne die eerste 10 minute ’n drie gedruk.

Hierna het Arno Smit (loskopstut), Tshepang Tau (binnesenter) en Heinrich Keir (buitesenter) agter die doellyn gaan kuier.

Magagula het gesorg dat van die drieë verdoel is.

Gert Sibande se loskopstut, Feely Sibanyoni,  het in die tweede helfde ook ’n drie gedruk.

Hoewel die punte gehou is, was die doel van die wedstryd eerder om jong, belowende spelers te identifiseer.

Hierdie wedstryd was die eerste van drie wedstryde in die provinsie wat deur die Mpumalanga Rugby Unie aangebied word om die Pumas se 0/20-afrigters die kans te gee om na die talent in die provinsie te kyk.

Chumani Booi, hoofafrigter van die Pumas se 0/20-span, woon al die wedstryde by.

“Die Pumas UXI instituut het verlede jaar goed afgeskop en met dié program kan ons meer talent uit ons streek kry sodat ons kompeterend kan wees in die eerste liga van die 0/20 Curriebeker.

“Dit is belangrik dat ons jong mense kan sien die Pumas is nie net op Nelspruit gefokus nie en dat daar wel vir jong spelers op die platteland ’n kans is om raakgesien te word.”

Die volgende wedstryd op Middelburg tussen Nkangala en Ehlazeni op 26 Februarie plaas en dan speel Gert Sibande teen Ehlanzeni in Nelspruit op Saterdag, 5 Maart.

Exit mobile version