SportStreeknuus

Studiegroep wen besigheidsliga op Delmas

Daar het 14 spanne oor ’n tydperk van vier weke deelgeneem, maar die Delmas Junior Studiegroep-span het op die einde hul plek na ’n wen deurgerol.

Strawwe kompetisie en groot pret was die bestanddele vir die eindstryd van vanjaar se besigheidsliga by Delmas Rolbalklub.

Die eindstryd wat op 24 November sou plaasvind, moes weens reën en weerlig vir ’n week uitgestel word.

Die laaste rol van balle vir die vierde been van die liga het op Woensdag, 1 Desember by die Delmas Rolbalklub plaasgevind.

Daar het 14 spanne oor ’n tydperk van vier weke deelgeneem, maar die Delmas Junior Studiegroep-span het op die einde hul plek na ’n wen deurgerol.

Na afloop van die wedstryd, was die pryse deur me. Karin Peres, president van die Delmas Rolbalklub, en mnr. Danny Claassen oorhandig.

Met die formaliteite afgehandel, was daar tot laataand in tipiese Delmas-rolbalstyl heerlik saam gekuier en geëet.

Me. Peres het haar blydskap met nog ’n suksesvolle Besigheidsliga uitgespreek.

“Ons klub is dankbaar vir die borge wat elke wedstryd vir ons die etes geborg het.”

Me. Peres het verder elke onderneming en individu wat vanaf die water en ys tot die slaai en geskenke geborg het, bedank.

“Sonder ons borge sou die liga nie moontlik gewees het nie.”

Me. Peres het ook haar klublede wat altyd gereed gestaan het en ’n hand bygesit het, bedank.

Volgens me. Peres, het hulle reeds nuwe lede bygekry en is daar ook ’n paar spelers wat om sosiale lidmaatskap aansoek gedoen het.

Die rolbalkomitee sal eersdaags ’n besluit oor die aansoeke neem.

“Ons bied op Vrydagmiddae vriendskaplike opleiding en spel aan vir enige belangstellendes en die opkoms hiervoor is ook goed.”

Me. Peres rig weer eens ’n uitnodiging aan enige belangstellende spelers om haar te kontak op 082 496 3782.

Sy het namens die klub vir al hul ondersteuners ’n geseënde feestyd toegewens.

Related Articles

Back to top button