Local sportSport

Sasol Digi Mag Rugbyklub vol nuwe gesigte

Die liga begin amptelik in Junie, dus is vriendskaplike wedstryde reeds vanaf Mei in die pyplyn.

SECUNDA – Klubrugby het uiteindelik die groenlig kry om weer voort te gaan en die oefeninge by die Sasol Digi Mag Rugbyklub is in volle vaart.

Na meer as ‘n jaar se rugbydroogte, is die manne uitgehonger vir plettervatte, skrums, lynstane, doelskoppe en drieë druk.

Die oefentyd is egter kort, want hoewel die afskop van die liga met ‘n maand uitgestel is, is dit om die draai.

Die liga begin amptelik in Junie, dus is vriendskaplike wedstryde reeds vanaf Mei in die pyplyn. Sasol DigiMag pak vanjaar die seisoen met ‘n taamlike jong span aan nadat heelwat van die hardebaarde wat vorige seisoene tot die klub se suksesse bygedra het, verhuis of uitgetree het.

Hanco Nel, reeds ‘n gevestigde speler, mik vir die sak.

Selfs die afrigtingspan, klubkomitee en borge sluit nuwe gesigte in.

“Ek sien egter baie potensiaal in die nuwe bloed,” het die hoofafriger, mnr. Lodewyk Uys vertel.

“Van die spelers wat die vorige seisoen nog die jongelinge was, is nou ons senior spelers en ek glo hulle sal die kultuur wat ons in die klub gevestig het, aan die nuwelinge kan oordra.”

Dié kultuur waarna mnr. Uys verwys het, is een van respek, dissipline en die waarde van broederskap wat wyer in die spelers se lewens as net die rugbyveld uitkring.

“Legendes soos afrigter Werner Joubert wat verhuis het en geliefde speler Jacobus Byleveldt wat verlede jaar oorlede is, laat ‘n geweldige leemte,” het mnr. Uys gesê.

Daar is wel nog gesoute spelers wat weer in aksie sal wees en provinsiale spelers soos PJ van Zyl is ook in die span.

Van Zyl gaan ook die rol van mede-afrigter, saam met mnre. Jan van Straaten wat vanaf Durban na Secunda verhuis het, en Lionell Visser vertolk.

Ulrich Venter plettervat ’n oefensak.

Francois Jacobs (Sweis) staan die skoene van kaptein vol.

“Die harde werk lê nou voor om die spelers se lywe vir wedstryde voor te berei, veral om hulle kontak-fiks te kry.”

Jacobs is opgewonde vir die seisoen en glo die klub het reeds ‘n sterk groep wat reg is om werk in te sit.

Jacobs het mnr. Uys se woorde beaam dat mense wat daarin belangstel om by die klub aan te sluit, baie welkom is.

“Daar is baie goeie spelers daar buite wat nog nie by ons is nie. Kom maak gerus kennis,” het Jacobs genooi.

Belangstellendes kan die klubvoorsitter, mnr. Christo Erasmus by 083 779 3804 skakel.

Die ander komiteelede is mnr. Morné van der Linde as adjunk-voorsitter, me. Annzuette Erasmus as sekretaresse en mnr. Renier Louwrens as tesourier.

Sasol Digi Mag het ook ‘n paar nuwe borge gekry, soos Kentucky Fried Chicken (KFC), Superspar, PPS en Stealth.

Nuweling Pieter de Wet vat ’n sak vas in ’n oefening om die spelers kontak-fiks te maak.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button