Hengelaars van Secunda en Standerton skitter op SAVOF-kampioenskap

Die Oostelike Streek se hengelkompetisie is vanaf 3 tot 7 Maart in die Grootdraaidam by Standerton gehengel.

SECUNDA – Plaaslike hengelaars het hul vernuf getoon by die nasionale hengelkampioenskap van die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) wat in Maart gehou is.

Die kampioenskap is in ‘n paar kleiner streekbyeenkomste gehou weens die Covid-19-regulasies wat groot saamtrekke verbied.

Die Oostelike Streek se kompetisie het vanaf 3 tot 7 Maart by Grootdraaidam plaasgevind.

Die senior mans se A-, B- en C-spanne van drie provinsies het deelgeneem.

Danie Luies van Secunda Hengelklub en Morné Kuhn (jnr.) van die Standerton en Distrik Hengelklub het gesorg dat die Mpumalanga-spanne uitgeblink het.

Luies, wat in die Mpumalanga senior B-span hengel, het as die victor ludorum weggestap en sy span het saam die kompetisie gewen.

Luies het op die eerste dag 31 visse vasgekap en sodoende sy sone gewen.

Hy het die tweede dag 14 visse uitgetrek en tweede in die sone gestaan en op die derde dag, het hy weer met 30 visse die sone gewen.

Morne Kuhn jnr. Foto: Verskaf)

Kuhn (jnr.), wat vanjaar vir die eerste keer teen die senior mans meeding, is die wenner in die C-span en het ook algeheel tweede by die kompetisie geëindig.

Hy het die swaarste sak van 65 visse met ‘n gewig van 31.8kg ingeweeg.

Volgens Kuhn, het sowat 800 hengelaars vanjaar aan die nasionale kompetisie deelgeneem.

Hy is algeheel 96ste in die land geplaas.

Dié jongeling wat nog verlede jaar in matriek was, is bekend vir sy ver- en kolgooi wat sy lyn meters verder in die dieper waters, waar die vis graag baljaar, laat val.

Dié kompetisie was ook vir hom een vir die boeke, want dit is die eerste keer wat hy en sy pa, Morné, as penmaats saam gehengel het.

Kuhn (snr.) is ook in die Mpumalanga C-span.

Kuhn (jnr.) het in 2019 nog in die junior-afdeling gehengel, waar hy ‘n tweede plek in die kampioen van kampioene-kompetisie behaal het.

Hy beplan om nog baie ver met sy hengel te gaan en mik om eendag Protea-kleure te dra.

Die vroue-spanne het die afgelope naweek deelgeneem en die algehele uitslae was teen druktyd nog nie bekend nie.

 

Exit mobile version