Local sportSport

Terugkeer van rugby op skoolvlak word bespreek

Die verklaring maak ook melding van die finansiële impak wat daar is om spelers te laat toets vir Covid alvorens wedstryde gespeel kan word met die Curriebeker wat as voorbeeld gebruik is.

Tydens ’n virtuele vergadering met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging (Sasra) is kwessies rakende die hervatting van skolerugby te midde die toename in Covid-19-infeksies in die land, bespreek.

Volgens ’n verklaring deur Sasra-voorsitter, mnr. Noel Ingle, is daar beraadslaag oor die tweede golf van Covid-19 en die risiko wat dit vir spelers inhou.

Beplanning oor hoe om die rugbyseisoen te hervat, en meer spesifiek die beplanning wat gedoen sal moet word om ’n gestruktureerde manier te vind om te verseker dat dit ’n gevoel van “hoop” aan spelers en afrigters bied, is ook onder andere bespreek.

Die verklaring maak ook melding van die finansiële impak wat daar is om spelers te laat toets vir Covid alvorens wedstryde gespeel kan word met die Curriebeker wat as voorbeeld gebruik is.

Die fisieke, emosionele en geestelike welstand van spelers, die gebrek aan rugby en die impak hiervan op die hoëprestasie-program van Saru, asook die beskerming van rugby as ’n spel, is ook bespreek.

Mnr. Ingle het gesê dat die volgende konsensus na die besprekings geneem is:

• Alle rugbyaktiwiteite word tot 8 Februarie, insluitend oefeninge, opgeskort.

• Sasra sal met die hulp van SA Rugby deurlopend die oordrag- en infeksiestatus van die virus in die land monitor gedurende die tydperk wat die spel gestaak is, sowel as wanneer rugbyoefeninge en wedstrydspel sal terugkeer.

• Alle verenigings en skole sal tweeweekliks oor die status van die infeksiesyfer in al die provinsies ingelig word.

• Alle verenigings en skole sal in kennis gestel word wanneer oefening hervat sal word, sodra daar vasgestel is dat die infeksiesyfer in al die provinsies na die vorige status teruggekeer het, wat ook daarop sal dui dat die tweede golf van die virus onder beheer is.

Mnr. Ingle het bygevoeg dat die veiligheid van spelers in ag geneem sal word wanneer hulle weer kan oefen.

Dit sal gedoen word deur ’n gestruktureerde benadering te volg wat uit twee fases sal bestaan:

Fase 1: ’n Minimum van 4 weke nie-kontak oefening, met fiksheid en kragoefeninge as fokuspunte.

Fase 2: Na afloop van fase 1 (en indien dit deur die betrokke gesaghebbende instansies toegelaat word), moet die kontakopleiding geleidelik geïntegreer word.

“Eers hierna sal die spel weer hervat kan word.”

Mnr. Ingle het ook uitgewys dat die Departement van Basiese Onderwys nog geen veranderinge bekend gemaak het wat in die Gazette gepubliseer is nie.

“Saru en Sasra sal enige veranderinge wat deur die Departement van Basiese Onderwys en Sport uitgespreek word en wat skolerugby kan beïnvloed, met betrokke rolspelers meedeel.

“Dit is ons verantwoordelikheid om te verseker dat die leerders wat aan die spel deelneem, dit doen in ’n omgewing wat geen skade berokken of risiko inhou vir spelers om onnodig siektes en/of beserings op te doen nie, omdat SA Rugby die beheerliggaam en toesighouer van rugby in Suid-Afrika bly,” het hy afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button