Mieke Swart van Standerton oortref haar wildste drome by nasionale kampioenskap

Sy oefen as ’n reël ’n uur elke dag, maar het die laaste week voor die kampioenskap ’n bykomende ses ure ’n week by haar instrukteur geoefen.

Mieke Swart se pad na die hoogste sport in akrobatiese dans, wenner van die Suid-Afrikaanse Kampioenskap, getuig van deursettingsvermoë.

Die gr. 11-leerder van Hoërskool Standerton het einde November in Pretoria ‘n punt van 9.72 uit 9.8 behaal met ‘n allemintige gaping tussen haar en die naaste teenstander, wat 8.79 behaal het.

“Dit was beslis nie ‘n net-net wen nie,” het me. Marilize Roelofse gesê.

Die danser wat op die drumpel van die grootmenswêreld staan, se mense is na die aankondiging tot trane gedwing, haar instrukteur inkluis.

“Ek het nie gedink ek sou wen nie. My mikpunt was ‘n 9.6 uit 9.8.”

Marilize, wat agter op die verhoog gestaan het, se motivering het klem op persoonlike verbetering gelê. Mieke het volgens die sillabus van die dansskool vir die eerste keer op ‘Level 8’ begin dans en spog met 10 jaar se akrobatiese ondervinding.

Sy oefen as ‘n reël ‘n uur elke dag, maar het die laaste week voor die kampioenskap ‘n bykomende ses ure ‘n week by haar instrukteur geoefen.

Haar dansskoolinstrukteur het soepelheid, grasie, tegniek en balans uitgesonder as belangrik vir die beoordelaarsoog.

Dansuitleg word voorts aan die beoordelaars gegee met moeilikheidsgrade wat haarfyn ontleed moet word.

“‘n Dans word volgens ‘n formule uitgewerk,” het Marilize verduidelik.

Die keuse het op A thousand years van Christina Perri, vir ‘n tot en met vier-minute-lange nommer, geval. “Die musiek beïnvloed jou optrede,” het Mieke bygevoeg.

Die skooleksamens is agter die rug en planne word beraam om arbeidsterapie eendag haar nering te maak, maar die dansskool se eksamens het Saterdag op haar gewag.

“Ek is nie van plan om op te hou nie,” het Mieke mee afgesluit.

Exit mobile version