Matshidiso werk hard vir SAs

Jong atleet wil in ander items ook presteer

SECUNDA – Atletiek is in Matshidiso Makgato (13) se gene.

Sy het die goue medalje vir verspring op verlede jaar se Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap verower.

Sy het begin verspring toe sy 10 jaar oud was en haar pa, mnr. Thabo Makgato, het haar afgerig.

“Ek het van kleinsaf vir my pa gevra wanneer kan ek begin verspring,” het Matshidiso vertel.

Haar pa het ook uitgeblink in atletiek en aan die 400m deelgeneem en haar oupa, mnr. Peter Makgato wat ook ‘n bekende in die Mpumalanga-atletiekkringe is, het in sy jonger dae in hekkies uitgeblink.

VIDEO: Matshidiso Makgato (13) eindig net-net tweede in ’n naelloop-item op Vrydag, 31 Januarie toe sy vir Hoërskool Secunda op die atletiekbaan gedraf het.

Matshidiso het op 10 vir die eerste keer na die Suid-Afrikaanse skole-atletiekkampioenskap deurgedring en eerste geëindig.

Sy neem al vandat sy sewe jaar oud is aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deel.

Sy het onlangs die 75m hekkies-naellope by haar lysie van verspring, 100m en 200m gevoeg.

Sy het gedurende die skoolvakansie ook hieraan geoefen.

Sy het verlede jaar negende in die 100m-naellope geëindig en vroeër jare ook die 80m vir D0/11 by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap gewen.

“Ek was baie opgewonde verlede jaar toe ek gewen het en my doelwit vir vanjaar is om die 75- hekkies, die 100m, 200m en weer verspring te wen,” het sy gesê.

Sy oefen ses keer weekliks en sy oefen al die afgelope drie jaar by me. Janine Fauhla, afrigter en biokinetikus by Hoërskool Secunda.

‘n Fisioterapeut op Secunda, me. Lumé Britz, het Matshidiso ook gehelp met haar voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap.

Sy het die afgelope naweek vir Hoërskool Secunda op die atletiekbaan gedraf en presteer.

Matshidiso geniet dit om aan redenaarskompetisies deel te neem as sy nie op die atletiekveld of agter haar skoolboeke is nie.

Sy neem ook aan hokkie en netbal deel en sy wil eendag as sy groot is ‘n dokter word, maar sy wil ook hardloop.

VIDEO: Matshidiso Makgato (13) het op Vrydag, 31 Januarie by Hoërskool Secunda se Prestige atletiekbyeenkoms wat by Secunda stadion gehou is, presteer. Sy het teen hoërskoolleerders meegeding.

Matshidiso Makgato (13) in die verspring in aksie.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version