Local sportSport

Luné en suster durf 2 500km deur Suid-Afrika aan

Twee geniet toer om brandstof te bespaar

SECUNDA – Plaaslike renjaer en aptekersassistent, Luné Snyman, en haar suster, Larissa Strydom, het op 12 November op die Wesbank Fuel Economy Tour in partnership with FNB-toer vanaf Johannesburg vertrek.

Snyman en Strydom het in total 2 500km afgelê tydens die toer wat in Johannesburg begin het en in Kaapstad geëindig het.

Die twee susters het vanaf Johannesburg eers na Durban gery, toe na Oos-London, toe na Port Elizabeth, en toe na George voor hulle hul eindbestemming in Kaapstad bereik het.

Wesbank en FNB is die hoofborge van dié toer wat deur mnr. Charl Wilken van Wilken Communications, gereël is.

Mnr. Wilken is ’n voormalige renjaer en het Snyman genader om aan die toer deel te neem.

“Ek kon nie so ’n kans deur my vingers laat glip nie,” het Snyman gesê.

Larissa Strydom en Luné Snyman is hier in Johannesburg by die beginpunt van die toer.

Altesaam 40 voertuie van verskillende vervaardigers het die toer aangepak en daar is gekyk na brandstofverbruik.

Snyman het besluit om haar sussie, wat ook as aptekersassistent werk, saam op die toer te neem nadat sy nie ’n ander vroulike navigator kon kry nie.

“Almal wat ek gevra het kon nie verlof vir die week kry nie en ek het toe besluit om my sussie saam te neem,” het Snyman gesê.

“Dit was vir my ’n groot voorreg om dié toer saam met my sussie aan te pak.”

Dit was vir Snyman interessant en verrykend om die toer te kon doen en sien hoe al die voertuie gevaar het.

Volgens Snyman kan ’n mens die tegnieke wat hulle tydens die toer toegepas het om brandstofverbruik te verbeter, in jou alledaagse lewe ook toepas.

“Ek het reeds vandat ek terug is, ’n verskil op my persoonlike voertuie se brandstofverbruik gesien,” het Snyman gesê.

Sy het motoriste aangemoedig om op Wesbank Fuel Economy Tour se webwerf, https://worldoffueleconomy.com/ te gaan kyk vir wenke en tegnieke hoe om brandstof te bespaar.

Larissa Strydom en Luné Snyman in Johannesburg by die beginpunt van die toer.

“Die hele toer was ’n wonderlike belewenis omdat ons die kans gehad het om van die mooiste dele van Suid-Afrika te sien.

“Veral die tuinroete was ’n hoogtepunt vir my en al die mooi Tsogo Sun International hotelle waar ons tuisgegaan het wat almal ’n uitsig op die see gehad het.”

Die twee sussies het die toer in ’n Honda BRV 1.5 gedoen en Snyman het Honda bedank wat die toer vir hulle so gerieflik moontlik gemaak het.

Die spangees onder die spanne was ook iets wat vir haar uitgestaan het gedurende die toer.

“Die hoogtepunt van die toer was die opgewondenheid om elke oggend op te staan en in die pad te val en na die volgende punt te reis.

“Die laagtepunt was om deur die Transkei te ry, die verkeer deur die klein dorpies het baie geduld en geloof geverg.

“Boonop is ons gepenaliseer as ons laat by die volgende bestemming aangekom het.

“Die toer is so uitgewerk dat ’n mens gedurende die hele toer die maksimum spoedbeperking moes ry sodat die brandstofverbruik so realisties as moontlik kon wees.

“As ’n mens te stadig gery en gesloer het of as jy verdwaal het, het jy laat by jou bestemming aangekom.”

Die twee susters, Luné Snyman en Larissa Strydom, in aksie agter die stuur tydens die Wesbank Fuel Economy Tour in partnership with FNB-toer

Deelnemers het ook sekere roetes gekry waarvolgens hulle moes ry en kon glad nie ’n ‘GPS’ gedurende die toer gebruik nie.

“Die roetes was spesifiek so uitgewerk sodat al die deelnemers dieselfde pad moes ry met ’n minuut uitmekaar.

“Daar was nogal baie druk op ons om volgens die boek en by die uitgewerkte skedule te hou.

“Ek en my sussie het karsiek geraak en dit was ’n uitdaging om ten spyte van dit, steeds verder te gaan en binne die afsnytyd elke dag se bestemming te bereik.”

Ná die toer is Renault as die beste vervaardiger aangewys terwyl Suzuki tweede geëindig het en Mahindra derde.

Snyman en Strydom het derde in hul spesifieke klas geëindig.

Die twee susters het met ’n Honda gery.
Die twee susters, Larissa Strydom en Luné Snyman, in die Honda waarmee hulle die toer aangedurf het.
Die twee susters, Luné Snyman en Larissa Strydom in aksie agter die stuur tydens die Wesbank Fuel Economy Tour in partnership with FNB-toer .

Related Articles

Back to top button