Dalene Hoffman aangewys as provinsiale vroue-hengelkampioen

Om die gesogte Protea-baadjie aan te trek, moet ’n deelnemer drie jaar in die SAVOV se A-span ingesluit wees en Dalene het nou een jaar op haar kerfstok.

Dalene Hoffman van Standerton het op 17 Augustus 2019 in Brakpan tydens hul prysuitdeling die vroue-kampioentitel van Mpumalanga Varswater Oewerhengelvereniging (MVOHV) ingepalm.

Haar Facebook-inskrywing het haar ongeloof en blydskap weerspieël.

“Ek het nooit gedink dat ek eendag daar sou staan nie, maar met harde werk, ‘n passie vir die sport, talent wat God my gegee het en met hulp van leermeesters, het ek dit bereik.”

Die Hoffman-gesin was merendeels sosiale hengelaars totdat die gogga gebyt het.

Haar seuns, Franco en Jaun-Pierre, het al verskeie kere by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap lyne natgemaak, haar man Jacobus, kan spog met insluiting in Mpumalanga se Senior C-span, wat by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Maart volgende jaar gaan meeding en die tweeling Chimonique en Shinika, is ook nie ongeneë om langs die viswater te wag vir daardie grotes om te byt nie.

Die Hoffmans langs die viswater. Agter is Jaun-Pierre, Jacobus, Dalene en Franco Hoffman. Voor is Shinika en Chimonique. (Foto: Verskaf)

Om as kampioen gekroon te word, vereis voldoening aan sekere kriteria beginnende met ‘n uitnodiging om by die nasionale proewe by die Bloemhofdam te hengel.

Hengelaars van verskillende provinsies sê mekaar die stryd aan onder die wakende oog van die keurders.

Om die gesogte Protea-baadjie aan te trek, moet ‘n deelnemer twee jaar in die SAVOF se A-span ingesluit wees en Dalene het nou een jaar op haar kerfstok.

Sy vertrek in September vir haar toer na Bloemhof om te hengel vir die SAVOF vroue A-span.

Dié werknemer van Absa op die dorp het sonder om twee keer te dink, die Bloemhofdam as die lekkerste uitgesonder.

Hengelaars op Standerton neem verlief met geelvisse wat sowat 300mm lank moet wees om te tel, maar dáár is dit anders en wemel dit van groot barbers, karpe en graskarpies.

“Jy trek bielies daar uit,” het sy gesê.

Dalene Hoffman nadat sy as Mpumalanga se vrouekampioen van die Suid-Afrikaanse Varswater en Oewerhengelvereniging aangewys is. (Foto: Verskaf)

Voorbereiding vir die Bloemhof-ervaring behels gereelde oefening vanweë tempo-hengel, kolgooi en verskillende aasaanbiedings waaraan ‘n mens blootgestel word.

“Daar is heelwat adrenalien betrokke en ‘n mens is skoon uitasem na die tyd.”

Haar hengelkas sal die gewone toerusting bevat, dalk ietsie ekstra en moet nie van die perdeby-dippie vergeet nie.

Dalene se hengelstorie wat die ware Jakob is, sluit ‘n 4kg-karp en baber van meer as 9kg in.

Met ‘n hoed, sonroom wat gereeld aangesmeer word en gemanikuurde naels, is dié lid van Standerton en Distrik Hengelklub gemaklik en tuis tussen die stokke, kiepnet en skepnet.

“Hengel is iets om te beleef,” het sy nie nagelaat om te sê nie.

Dalene Hoffman het rede om te glimlag na dié vangs by die Bloemhofdam. (Foto: Verskaf)
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version