Maximed beklink besigheidsliga se eindstryd

Maximed het die wedstryd met ses paaltjies beklink en sodoende vir die eindstryd gekwalifiseer.

Maximed en Van Wyk Eiendomme het in Standerton Krieketklub se besigheidsliga die afgelope naweek by die Piet van den Berg-ovaal onderskeidelik as wenners en plaat-wenners uit die stryd getree.

In die aanloop tot die twee wedstryde het Maximed op Saterdag om 11vm teen Van Wyk Eiendomme, verlede jaar se kampioen, in die eerste halfeindstryd meegeding.

Van Wyk Eiendomme het eerste gekolf en 153 in 20 beurte aangeteken, waarna Maximed die telling gemaklik verbygesteek het met slegs vier paaltjies plat.

Maximed het die wedstryd met ses paaltjies beklink en sodoende vir die eindstryd gekwalifiseer.

In die tweede halfeindstryd tussen Green Stars en Holmdene, het Holmdene eerste gekolf en 149 in 20 beurte aangeteken.

Habil Mashin is byna uit. Hy was een Green Stars se beste kolwers. (Foto: Arisja Misselhorn)

Green Stars het die telling verbygegaan met 15 balle oor en die wedstryd met vier paaltjies gewen.

Die plaat-eindstryd het Sondag om 9vm tussen Van Wyk Eiendomme en Holmdene plaasgevind.

Holmdene het eerste gekolf en was almal uit vir 90 lopies, waarna Van Wyk Eiendomme die telling gemaklik verbygegaan het en as wenners met agt paaltjies gekroon is.

Green Stars het teen Maximed om 1nm in die eindstryd meegeding.

Green Stars het eerste gekolf en 158 in hulle 20 beurte aangeteken.

Bryan Pretorius boul vir die Maximed. (Foto: Arisja Misselhorn)

Maximed het die telling verbygegaan met sleg 10 balle oor en met sewe paaltjies geseëvier.

Daar was deur die liga aantekeninge gemaak van kolf-en boulwerk en Habil Haabal Mashin van Green Stars is as die beste kolwer aangewys.

Habil het in agt wedstryde slegs drie keer sy paaltjie verloor en 384 lopies teen ‘n gemiddeld van 128 aangeteken.

Hy is ook as die beste bouler aangewys nadat hy in agt wedstryde 13 paaltjies geneem het.

“Dit was ‘n lang, maar lekker 2019-liga en baie positiewe kon uit die twee maande geneem word met hope talent wat elke naweek te sien was,” het Werner Mouton gesê.

“Ongelukkig moet daar ‘n wenner uit so ‘n toernooi tree, maar die belangrikste was dat ek kon sien dat elke span dit geniet het.

“Ons beplan om nog groter volgende jaar te gaan en baie dankie vir elke span se ondersteuning.

“Die komitee bedank ook al die borge vir hulle deelname aan Standerton-krieket.”

Bryan Pretorius raap die bal uit die lug op om die kolwer uit te vang. (Foto: Arisja Misselhorn)
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version